Local newsNews

Gemoedere loop hoog terwyl regering ’n stap nader aan grondonteiening gee

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa hom sterk teen grondgrype as sodanig uitspreek, het dit wel ’n werklikheid regoor die land geword.

Ná maande van openbare vergaderings waar die meerderheid mense regoor die land aangedui het dat hulle ten gunste is van ’n wysiging aan die grondwet wat onteiening sonder vergoeding betref, is dit nou net ’n kwessie van tyd voordat dié netelige saak in die parlement moet draai.

Die besprekingsdatum is egter nog onbekend.

“Dit is net mense wat té gemaklik geraak het wat teen grondonteiening sonder vergoeding (OSV) is.” Só het Sello Moswoeu, EFF-raadslid van Bela-Bela, aan Die Pos gesê in reaksie op die parlementêre hersieningskomitee se aanvaarding van ’n verslag om art. 25 van die grondwet te hersien sodat grond sonder vergoeding onteien kan word wanneer dit in die openbare belang is.

Luidens ’n verklaring uit die parlement het ANC– en EFF-lede ten gunste hiervan gestem terwyl die DA en Cope daarteen gekant was. Slegs lede wat deel is van die hersieningskomitee kon vir of teen die beoogde wysiging gestem het.

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa hom sterk teen grondgrype as sodanig uitspreek, het dit wel ’n werklikheid regoor die land geword. Ook in Bela-Bela en Modimolle is voorvalle van pogings tot grondgrype die afgelope jaar aangemeld.

Pogings is tydens Agri-SA se grondberaad in September buite Bela-Bela aangewend om met verskillende rolspelers hande te vat en daadwerklike alternatiewe oplossings vir grondsake te soek.

David Mabuza, adjunkpresident van die land, het op die konferensie Dan Kriek, president van Agri-SA, se blad geskud met die belofte dat die ANC teen onwettige grondgrype gekant is. Mabuza het boere bedank vir hul bydra tot die ekonomie, maar het bygesê dat die behoefte aan grond ’n sensitiewe saak is.

“Sou onteiening ’n werklikheid word, sal die fokus eerstens op regeringsgrond en staatseiendom val. Grond wat braak lê en nie ten volle bewerk word nie.”

Agri-SA het die hersieningskomitee se nuutste uitspraak verwerp.

Luidens ’n verklaring van Agri-SA kan OSV die volhoubare ontwikkeling van nuwe boere onmoontlik maak. Boere se grond sal geen waarde hê waarteen finansiering bekom kan word nie. Dit sal dié boere afhanklik van die regering en belastingbetalers maak, lui die verklaring.

Verder kan OSV tot ’n kredietafgradering, ’n dieper resessie en groter werkloosheid in landelike gebiede lei. Elders kan die beoogde wysiging eiendomsbeskerming, ekonomiese stabiliteit, werkskepping, beleggersvertroue en volhoubare transformasie in landbou skend.

Kriek het gesê Agri-SA sal bykomende hulpbronne aanwend en dat hulle steeds in gesprekvoering met alle belanghebbendes glo.

“Maar dit is nou tyd om ’n duidelike lyn te trek,” het hy gesê.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie gesê mense loop nou die risiko om ook ander eiendom, beleggings, roerende bates, plaastoerusting en voertuie te verloor. Volgens hom is landsburgers ’n rat voor die oë gedraai wat die wettigheid van OSV betref.

“Dit is teenstrydig met menseregte en internasionale norme. Selfs die BBTF se destydse voorlegging skeel hulle min,” het Mills gesê. “Hierdie is niks meer as ’n rassistiese aanslag op die Afrikaner nie. Dit sal tot katastrofiese ekonomiese gevolge lei.”

Moswoeu meen dat die behoefte aan grond moontlik op die Bela-Bela-munisipaliteit se volgende bespreking oor die dorp se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) kan opduik.

“Ons het telkemale gevra dat regeringsgrond aan die mense teruggegee moet word en selfs private grond. Maar om net te gee aan mense wat die grond nie korrek sal aanwend nie, sal nie wys wees nie,” het Moswoeu gesê. “Mense wat byvoorbeeld nie kwalifikasies het nie, moet ook die geleentheid gegun word om te kan boer.”

Hy het ten slotte gesê dat mense moet verstaan dat Suid-Afrika ’n demokratiese land is en indien mense verandering wil hê, moet hulle daarvoor stem. “Soos wat gebeur het tydens die openbare vergaderings oor grondhervorming.”

Related Articles

Back to top button