CrimeNews

Toanette van Boer Soek ’n Vrou verlig dat klag teruggetrek is

Die aanklag van bedrog teen Toanette Els, gewilde Boer Soek ’n Vrou-deelnemer, is op Vrydag 9 November voorlopig in die streekhof in Modimolle teruggetrek.

Dit was Els se vyfde hofverskyning sedert sy deur Jana Smit van Modimolle van bedrog aangekla is.

Smit het ’n klag teen Els gelê nadat sy glo ’n deposito betaal het sodat haar kind ’n veldwagterkursus kon bywoon. Die kursus is egter gekanselleer en Smit het die klag gelê toe haar geld nie onmiddellik terugbetaal is nie. Els is op Vrydagoggend 20 Julie in hegtenis geneem. Sy het bevestig dat die deposito sedertdien terugbetaal is.

Die verligting op Els se gesig was duidelik toe die landdros haar ná enkele sekondes in die beskuldigdebank meegedeel het dat die saak teen haar voorlopig teruggetrek is. Sy is by die hof ondersteun deur haar pa, Anton, en broer, Marcus, wat van Amerika af teruggekeer het toe hul ma, Trudie, se gesondheid vroeër vanjaar versleg het. Sy is in September aan limfklierkanker oorlede ná ’n stryd van vier jaar.

Els verskyn in die huidige reeks van Boer Soek ’nVvrou wat Donderdae op kykNET uitgesaai word. Die fyngeboude donkerkop is die eerste vrouedeelnemer wat tot die eindronde gevorder het.
“Ek is baie dankbaar die saak is teruggetrek. Ek wil baie graag aangaan met my lewe en voel dat die klag en die wye mediadekking wat dit tot gevolg gehad het, onregverdig was. Ek oorweeg nog of ek stappe teen die klaer gaan neem vir die skade wat sy ons berokken het. Die afgelope paar maande was ’n bitter moeilike tyd vir ons,” het Els buite die hof gesê.

Die 23-jarige sê sy het nuwe planne vir haar onderneming, Rangers in Training, wat buite Modimolle op ’n wildsplaas geleë is. Sy beplan om die kursusse wat sy aanbied uit te brei en om kinders tussen die ouderdomme van 10-16 jaar ’n kans te gee om meer oor die Bosveld en natuurlewe te leer.

Related Articles

Back to top button