Local newsNews

Sakke vol dagga in yskas gevind

Daar is op 344 klein sakkies dagga wat saam 180,1 kg geweeg het, en 25 swart plastieksakke dagga, wat 360,1 kg geweeg het, afgekom.

Die polisie se veediefstaleenheid in Mokopane was op Donderdag 18 Oktober besig met ’n ondersoek op ’n plaas in die Roedtan-omgewing, toe hulle op ’n groot daggavonds afgekom het.

Volgens AO James Findley, woordvoerder van die Modimolle-polisie, was AO Thabo Kgomo van die polisie se veediefstaleenheid op die plaas, Maghosi, wat aan Rakatu Mokgotho (38) behoort, toe die vonds gemaak is.

Kgomo het toevallig op die 344 klein sakkies dagga wat saam 180,1 kg geweeg het, en 25 swart plastieksakke dagga, wat 360,1 kg geweeg het, afgekom. Van die dagga was glo in ’n yskas versteek.

Mokgotho, die eienaar van die plaas, en twee ander verdagtes, Brian Nkwasu (25) en Thabo Mahlaba (22), is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van meer dagga as wat nodig is vir eie gebruik, en die handeldryf daarmee.

Al drie het op Vrydag 19 Oktober in die hof in Mookgophong verskyn. Die saak is uitgestel na Maandag 29 Oktober en borgtog van R1 000 elk is aan Nkwasu en Mahlaba toegestaan. Die twee het dit reeds betaal.

Mokgotho is op borgtog van R3 000 vrygelaat, maar dit was volgens die polisie op Dinsdag 12 November nog nie betaal nie.

Die saak is weer uitgestel tot Maandag 26 November. Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Back to top button