MunicipalNews

Bela-Bela se watersuiweringswerke gaan nuwe baadjie kry

Die watersuiweringswerke in Bela-Bela sal eersdaags baie nodige instandhouding- en opgraderingswerk ondergaan nadat die aanlegte die afgelope paar maande op volle kapasiteit en onder druk gewerk het.

Inwoners het in die proses talle waterprobleme ervaar.

Luidens die munisipale verslag oor watersake, wat tydens die amptelike munisipale vergadering op Dinsdag 23 Oktober bespreek is, is watertoevoer vanaf die Magalies Wateraanleg, asook die drie boorgate in die dorp, nie meer voldoende om in inwoners se daaglikse behoeftes te voorsien nie.

Die dorp ontvang tans 45% van sy water by Magalies Water en die munisipale damme moet 55% voorsien.

Watervlakke by reservoirs het in Julie op 75% en in Augustus op 80% gestaan, lui die verslag. Daar is egter tussen Julie en September waterverliese van 21,5% aangeteken weens lekkasies en watermisbruik.

Inwoners is verder omgekrap omdat die munisipaliteit en Magalies Water die watertoevoer snags toedraai, en talle inwoners dan sonder water laat, lui die verslag.

Die munisipaliteit het vir die huidige boekjaar ’n regeringstoelaag van R40 miljoen vir opgraderingswerk ontvang wat op verskillende waterverwante projekte bestee sal word.

Volgens die munisipale verslag is R12 566 904 daarvan geoormerk vir die opgradering van die suiweringswerke in Beckettstraat en vir ’n bykomende reservoir, wat langs die bestaande reservoir naby die Renaissance-aftreeoord gebou sal word.

Tinus Ras, DA-wyksraadslid, het gesê ’n kontrakteur is reeds aangestel om die werk te doen en is besig om sy span met die projek en vereistes vertroud te maak.

Lede van die wykskomitee dien tans op die bestuurskomitee wat insae sal hê in die projek, het Ras gesê. Hy het gesê die projek sal sowat nege maande duur, maar die kontrakteur wag steeds op voorgeskrewe spesifikasies vir die projek voordat hulle kan begin werk.

Volgens inligting van lede wat deel van die projekbestuur vorm, word daar voorlopig geen noemenswaardige watertekorte tydens die opgraderingsfase verwag nie.

Related Articles

Back to top button