BlogsOpinion

O, die drukkersduiwel!

Wat meestal gebeur is dat ’n mens se oë en kop effens dof raak as jy heeldag voor die rekenaar sit, dat jy jou plek verloor wanneer die telefoon lui, die krag afgaan of iemand in jou kantoor inkom om jou iets te vra.

Só ’n paar jaar gelede loer ek oor my laerskoolkind se skouer terwyl sy uitnodigingskaartjies maak vir ’n afskeidspartytjie vir haar beste maatjie wat Wes-Kaap toe verhuis.

Ek sien dadelik die fout, maar voel ’n bietjie sleg om haar geesdrif te blus. Daar is immers ’n reuseverskil tussen: “Kom na Elizma se verrassing” en “Kom na Elizma se verassing”.

 

 

Dit is dié klein jakkalsies wat ’n koerantredakteur slapelose nagte besorg wanneer dit per ongeluk deurglip.

Ongelukkig gebeur dit gereeld en dit laat ’n mens nie juis beter voel om altyd die drukkersduiwel die skuld te gee nie. Wat in werklikheid meestal gebeur is dat ’n mens se oë en kop effens dof raak as jy heeldag voor die rekenaar sit, dat jy jou plek verloor wanneer die telefoon lui, die krag afgaan of iemand in jou kantoor inkom om jou iets te vra. Of dat jy begin spoedlees sodra die drukkery laat weet die uitlegkantoor moet nou opskud: hulle wil begin druk!

En dan gebeur dit, soos in verlede week se koerant, dat die “treinspoor van skade” wat ’n haelstorm gelaat het, per ongeluk verander word in ’n “treinspoor wat in die haelstorm beskadig is”.

Of dat ’n vooraanstaande man helder oordag in ’n winkelsentrum se parkeerterrein “bestreel” pleks van “besteel” word. Of dat die burgemeester plegtig belowe alle werkers sal voor die einde van die maand “betas” pleks van “betaal” word.

Dankie tog vir wakker proeflesers wat bogenoemde twee foute raakgelees het voordat dit in die koe-rant verskyn het.

Maar waar was hulle toe die bekende Blommeskou in Mookgo-phong een keer per ongeluk die bekende “Bommeskou” geword het?

En daardie keer toe ’n privaat boodskappie vir die uitlegkunstenaar onderaan ’n advertensie oor mieliekoppe verskyn het: “Willie, gooi sommer ’n glimlaggende mieliekop by hierdie een!”

Related Articles

Back to top button