CrimeNews

Zimbabwiërs kry stewige vonnis vir wrede aanvalle

Twee buitelanders moet etlike jare agter die tralies deurbring nadat hulle in die Modimolle-streekhof stewige vonnisse opgelê is.

Die Pos het in 2016 oor verskeie gewapende roof- en diefstalsake berig nadat Tweefontein, Noodhulp, Roodepoort en die Buyskop-omgewing deurgeloop het onder ’n vlaag inbrake. Die polisie het op daardie stadium vermoed dat buitelanders by die voorvalle betrokke is.

Twee inwoners, Frik Buitendag van Turffontein en José de Nobrega van Buyskop, is onderskeidelik in April en Mei 2016 deur rowers by hul wonings aangeval. Buitendag is geskiet en De Nobrega is met ’n kapmes aangeval.

Albei het die aanvalle oorleef.

 

Nqobile Nyoni (30), ’n Zimbabwiese burger, is 15 jaar tronkstraf in die Modimolle-streekhof opgelê.

 

Vyf Zimbabwiërs is kort ná die aanval op De Nobrega deur die Bela-Bela-polisie en lede van die Heritage Protection Group (HPG) in hegtenis geneem. Die polisie het gesteelde eiendom en vuurwapens in hul besit gevind, is destyds berig.

 

Wilson Monjeza (36), ook ’n Zimbabwiër, is vir 75 jaar tronk toe gestuur. Hy moet 40 jaar van die vonnis uitdien voordat hy in aanmerking kan kom vir parool.

 

Nqobile Nyoni (30), Christopher Mugabe (25), Wilson Monjeza (36), Elvis Musimeki (31) en Jacob Chio (24), almal Zimbabwiërs, is in verband met die aanval aangekeer en het in die hof verskyn op aanklagte van huisbraak, roof, diefstal en poging tot moord.

 

Jacob Chio (24) van Zimbabwe word steeds deur die Bela-Bela-polisie gesoek nadat hy uit aanhouding ontsnap het.

 

Volgens kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, is Mugabe en Musimeki onskuldig bevind nadat die ondersoek getoon het dat hulle nie ten tyde van die pleeg van die misdade in die land was nie.

Chio het egter destyds vir ’n geskarrel gesorg toe hy uit aanhouding ontsnap het.

Volgens Schutte het dit gebeur toe hy met ’n ander verhoorafwagtende by die Bela-Bela-polisiestasie “selle geruil” het en die bewaarders só uitoorlê het. Chio word steeds gesoek.

Die ander twee beskuldigdes, Monjeza en Nyoni, het ná twee jaar in aanhouding, hul vonnis op Dinsdag 30 Oktober in die streekhof aangehoor.

Monjeza is tot 75 jaar tronkstraf gevonnis vir roof, huisbraak en vir die besit van onwettige wapens en ammunisie.

Hy is onskuldig bevind op die aanklag van poging tot moord op Buitendag, maar skuldig bevind vir die roof en aanval op De Nobrega.

Die hof het voorts bepaal dat Monjeza 40 jaar van sy vonnis moet uitdien voordat hy in aanmerking kan kom vir parool.

Nyoni is tot effektief 15 jaar agter tralies gevonnis op die aanklag van roof.

Die polisie vra die publiek se hulp om Chio op te spoor. Mense met inligting oor waar hy hom bevind, kan vir Schutte bel by tel. (014) 736 9733 of die Bela-Bela-polisie se kliëntedienssentrum by tel. (014) 736 9760/1.

Related Articles

Back to top button