LettersOpinion

China dra by tot werkloosheid

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is lank reeds kop in een mus met hul eweknieë in China.

Karel Niewenhuis, adjunkprovinsiale leier: Vryheidsfront Plus, skryf:

Die hoofstroommedia ag dit klaarblyklik as onbenullig dat die Chinese stil-stil deel van Suid-Afrika se polisiediens geword het.

Pleks van landsburgers met banieropskrifte daaroor in te lig, word die insypeling van Chinese in ons belangrikste beskermingsmeganisme verswyg. Die enkele weggesteekte berigte verdien skaars vermelding.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is egter lank reeds kop in een mus met hul eweknieë in China. Reeds in 2010 is die voorstel van die destydse adjunkminister Fikile Mbalula, in samewerking met die Chinese polisie, dat ’n strategiese verhouding tussen die polisie en China onderhandel word en ’n duidelike visie sal bevorder.

Die 13de Chinese gemeenskaps- en polisiewerksentrum is in November vanjaar in Port Elizabeth geopen. Die doel is om die polisie te ondersteun, op te lei en Manderyns te leer praat.

Van wanneer af is ons nie in staat om ons eie mense op te lei nie? En in ’n land met elf amptelike tale moet polisiebeamptes, wat meestal met moeite landsburgers in Engels of Afrikaans kan bedien, ’n taal onder die knie kry wat hoofsaaklik in China gepraat word?

Die Chinese in Suid-Afrika word aangemoedig om nouer saam te werk om veiliger gemeenskappe te bevorder. Lt.genl Liziwe Ntshinga het tydens dié geleentheid as volg haar dank aan die Chinese leierskap in die Oos-Kaap betuig: “Met die verhouding tussen Suid-Afrika en China wat sterker word, het dit die polisie gebaat om die verhouding tussen die polisie en Chinese gemeenskappe te verbeter.”

YuYuan van die Chinese ambassade het gesê die Chinese sal modelburgers wees wat Suid-Afrika se wette gehoorsaam. Is dit nie vanselfsprekend nie?

China raak betrokke in ’n soewereine, onafhanklike land se polisiëring onder die dekmantel van gemeenskapsveiligheid. Indien dit nog nie duidelik is dat hier ’n slang in die gras is nie, help ’n Zambiese koerant om die kloutjie by die oor te kry. Zambië het immers verder gevorder op die pad, saam met Afrika se helpende hand, die Chinese regering.

Pres. Cyril Ramaphosa is trots daarop dat China ’n projek van R17 miljard in die sone suid van Musina gaan belê en staatsinstellings staan bakhand by China vir oorlewing. Intussen is werkloosheid hemelhoog en gee die regering voor om besorg te wees oor die miljoene wat met plakkate vir ’n werkie bedel. Vreemdes word ingevoer en werk verskaf. (Brief verkort. — Red.)

Related Articles

Back to top button