Local newsNews

’n Skaapras gepas vir die Bosveld-klimaat

“Die proses was nie om die Pedi-ras te diskrediteer nie, maar om die goeie eienskappe tot voordeel te gebruik om ’n gepaste ras die lig te laat sien.”

Elke skaapboer soek na ’n skaapras wat maklik grootmaak, ’n ekonomies bate is en aangepas is by die omgewing se uitdagings.

Só het Raymond Read van die Bosvelder-studiegroep op Saterdag 3 November tydens ’n inligtingsdag en praktiese sessie by die Warmbad-veemark buite Bela-Bela aan boere en besoekers gesê. Hy het gepraat oor Bosvelderskape, ’n ras wat veral aangepas is om in die Bosveld mee te boer.

’n Behoefte het destyds by studiegroeplede ontstaan om op Pediskape se positiewe eienskappe te fokus deur ’n swaarder en vroeër bemarkbare ras te teel sonder om die skaap se genetiese weerstand teen hartwatersiekte in te boet.

Proewe het tussen 2013 en 2014 begin waar skaaprasse uit die Pedi-, Van Rooy- en dorperrasse te kruisteel.

Dié suksesvolle projek het tot die ontstaan van die Bosvelder gelei, het Read gesê. Dié ras toon eienskappe van hoë vrugbaarheid, goeie tropinstink, goeie moedereienskappe, gehardheid en hulle is bestand teen hartwater.

“Die proses was nie om die Pedi-ras te diskrediteer nie, maar om die goeie eienskappe tot voordeel te gebruik om ’n gepaste ras die lig te laat sien,” het Read gesê. Volgens hom is Pedi-bloed ’n vereiste om Bosvelders te teel.

“Deur inteling met dorpereienskappe kom ’n swaarder speengewig, beter groeivermoë en karkasgehalte na vore, terwyl Van Rooy-kruisings diepte, langer lywe, asook beter melk- en vleisgehalte bevorder. Die skaap leef ook langer.”

Hy het voorts gesê die Bosvelder is, danksy die kruising, ’n baie vrugbare ras wat in die harde Bosveldklimaat aanpas en vir boere ekonomies tot voordeel is.

“Daar is egter streng vereistes vir Bosvelderskape by veilings en dit is my raad dat boere net hoë gehalte rasse aanwend vir teling,” het Read gesê.

“Die moontlikheid dat hulle horings kan kry, kom van die dorperras terwyl die Van Rooy-ras die horinggeen destyds van die Afrikanerskaap gekry het.

Skape met kort ore is onmoontlik om te hanteer omdat hulle normaalweg moeilike natuurlike geaard-hede het.”

Deur Pediskape met Van Rooy-skape te teel, maak dat die skape langer ore het en beter natuurlike geaardhede ontwikkel, het Read gesê.

Boere en besoe-kers het die lesing baie interessant en leersaam gevind.

’n Jaarlikse Bosvelderskaap-veiling het sedertdien die lig gesien waar dié skape goeie pryse behaal.

Die volgende Bosvelderstudie-groepveiling vind op Saterdag 2 Februarie 2019 by die Warmbad-veemarkkrale buite Bela-Bela plaas.

Vir navrae oor die veiling bel vir Kobus Potgieter by tel. 083 654 4594.

Related Articles

Back to top button