CrimeNews

Dobbelaars skrik hul asvaal toe polisie ewe skielik instap

Dobbelaars wat vasgenael voor die rekenaarskerms van ’n onwettige dobbelplek in Modimolle gesit het, was geskok toe die polisie en lede van die provinsiale dobbelraad onverwags daar ingestap het.

Ses mense in hul twintigs en dertigs is op Dinsdag 6 November weens onwettige dobbelbedrywighede in heg-tenis geneem. Die dobbelplek, wat slegs ’n deur met ’n veiligheidshek na buite het, het geen naambord gehad wat hul dienste adverteer nie.

Dit is tussen die Spar en PostNet in die dorp geleë.

Volgens Philly Masogo, senior bestuurder van wetstoepassing van die Limpopo-dobbelraad, dui voorlopige ondersoeke daarop dat die eienaar ’n Ier met die naam Roland is. Sy van is onbekend. Die ses mense wat in hegtenis geneem is, het binne die gebou met hul regsverteenwoordigers vergader.

Volgens AO Eugene Clarens, ondersoekbeampte, was daar 38 rekenaars op die perseel.

’n Bejaarde man het kort ná die klopjag daar aangekom om te dobbel. Hy wou verslae weet hoekom hy nie toegang tot die gebou kon kry nie en was verbaas om te hoor dat dit ’n kriminele oortreding is om by ’n dobbelplek sonder ’n lisensie te dobbel. “Ek kom sit soms maar hier om die tyd te help omkry,” het hy gesê.

Volgens hom besoek hy gereeld soortgelyke plekke en sit daar soms tussen 50 en 100 mense. “Ek wen so nou en dan, maar nie groot bedrae nie,” het hy gesê. “Ek sal maar eerder weer op Bela-Bela gaan dobbel.”

Die deure van nog ’n aanlyndobbelplek skuins oorkant die pad was dig toegetrek.

Die saak teen ’n sakeman van Bela-Bela wat in 2015 in hegtenis geneem is op ’n aanklag dat hy ’n onwettige aanlyndob-belonderneming bedryf, is volgens Masogo steeds nie afgehandel nie. Die polisie het in 2015 op ’n onderneming in Modimolle toegeslaan en beslag gelê op meer as R18 000 kontant en rekenaars ter waarde van R200 000. Die man is ook verbind met ’n dobbelonderneming in Bela-Bela.

Related Articles

Back to top button