LifestyleRecipes

Talentvolle jong sjef deel sy spogresep

Jan-Barend Kruger, ’n boorling van Mookgophong en oud-Hansie, studeer tans as fynproewersjef by die Hedgehog’s Nest Culinary Institute teen die Magaliesberge in die Rustenburg-omgewing.

Bykomend tot die City & Guilds se intensiewe opleidingsprogram wat die studente volg, doen hulle ook praktiese diens deur spyseniering vir groot geleenthede soos matriekafskeide, korporatiewe geleenthede, troues en Sondag-buffetetes te verskaf.

Die studente het in September vir 3 000 gaste wegneemetes voorberei tydens ’n boogskietkampioenskap wat op die terrein aangebied is.

Kruger se gunstelingafdeling is klein voorgereghappies (canapés) maar hy skrik nie vir groot uitdagings soos om vir 300 gaste sappige kruisskyf voor te sit nie.

Dié talentvolle jong man se droom is om eendag ’n string eksklusiewe koffiewinkels te open met goeie gehalte koffie en uitsoekgeregte om dit te komplimenteer.

Hy het sy eie kleinkoekieresep met Die Pos se lesers gedeel. Hy noem dit sy grondboontjiebotter- en rissiekoekies op ’n pekanneut “prailene”.

Bestanddele:

  • 125 ml grondboontjiebotter
  • 125 ml bruin suiker
  • 125ml wit suiker
  • 125g sagte botter
  • 1 eier
  • ½ teelepel bakpoeier
  • ½ teelepel koeksoda
  • 1 teelepel vanielje /karamelekstrak
  • 1 teelepel rooipeper
  • 1 teelepel sout
  • 310ml koekmeel

Metode :

  1. Room botter, grondboontjiebotter en suiker saam. Voeg eier by en meng goed.
  2. Voeg sout, rooipeper, bakpoeier en koeksoda by, asook die geursel van jou keuse.
  3. Sif meel by en meng deur. Rol in balletjies en druk plat op ’n gesmeerde pan en bak teen 180ºC ongeveer 6 minute (tyd kan verkil van oond tot oond of met grootte van koekies).
  4. Resep lewer ongeveer 2 dosyn dekadente koekies.

Related Articles

Back to top button