Lifestyle

‘Dit lyk soos ons wiel daai, Pa’

Snoesig het alles om my in stadige aksie plaasgevind, selfs die wiel wat op daardie tydstip verbygerol het, het in stadige aksie gebeur.

Ek neem aan dat elke familie sulke “binnegrappies” het.

Daardie sêgoed, verwysings of weersprekings wat generasies lank onthou word en net deur die gesin self verstaan word.

My pa, ons noem hom deesdae oupa Hannes, was besonder handig in die dae toe sy hande nog mooi vasgevat het. Daardie nerfaf hande met die dik vingers het vir niks verkeerd gestaan nie. Ingeboude kaste, teël-, bou- en loodgieterswerk is sommer gou Saterdae kafgedraf.

As hy op weeksaande sy groen “overall” aangetrek het, is enjins, ratkaste en sweiswerk ook gepak. So het dit gebeur dat oupa Hannes sommer eiehandig ’n reeks sleepwaentjies aanmekaar geslaan het. Die laaste weergawe, ’n 1983-model in babablou, staan steeds onder my afdak.

Sy eerste poging, wat oom Pieter later gekoop het, moes een jaar diens doen op ’n Tzaneen-vakansie. Oom Pieter-hulle het juis daar gewoon. Met die kattebak en sleepwaentjie volgelaai het die gesin opgewonde die pad Noorde toe aangedurf. Ek het regs agter gesit en dromend die landskap sien verbyskuif terwyl my ooglede al swaarder geword het.

Magoebaskloof was altyd ’n hoogtepunt en ek is wakker gemaak daarvoor. Ek het wasem teen die koue venster geblaas. Die mistigheid het die berge en plantasies in ’n wonderwêreld omskep. Snoesig het alles om my in stadige aksie plaasgevind, selfs die wiel wat op daardie tydstip verbygerol het, het in stadige aksie gebeur. Terwyl ek so in verwondering staar na die wiel wat sommer so uit die bloute ons motor verbysteek, kom die woorde vanself: “Dit lyk soos ons wiel daai, Pa.”

Ek kan tot vandag nie presies verklaar wat die rede was dat ons wiel op ’n solotog gegaan het nie, maar ek verbeel my oupa Hannes het sedert daardie dag meer aandag aan die onderhoud en smering van wiellaers gegee.

My boetie moes nooit weer kranse afklouter op soek na ons wiele nie. Sedertdien word elke los wiel wat êrens rondlê met ’n “dit lyk soos ons wiel, daai” begroet.

• Paul Smith is ’n motorliefhebber, gesinsman en eienaar van die Spur op Bela-Bela.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button