CrimeNews

Polisie vind wapens in vlakvarkgat op plaas

Twee haelgewere en nog ammunisie is ontdek waar dit in vlakvarkgate op die plaas versteek was.

Vier mense het die afgelope week in die hof in Modimolle verskyn nadat die polisie beslag gelê het op drie ongelisensieërde vuurwapens wat in vlakvarkgate op ’n plaas in die Kromkloof-omgewing versteek was.

Die polisie het op Donderdag 18 Oktober ondersoek ingestel ná ’n inbraak op ’n plaas sowat 10 km uit op die Geelhoutkloof-pad, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê. Die ondersoek het hulle gelei na inwoners van die plaas waar die wapens later gevind is.

Met hul aankoms was die plaasbestuurder, Mpho Mothata (27), nie tuis nie, maar wel twee plaaswerkers en Mothata se vriendin. Die polisie het ’n .22-geweer onder een van die werkers se bed gevind met 58 rondtes ammunisie. Twee haelgewere en nog ammunisie is ontdek waar dit in vlakvarkgate op die plaas versteek was, het Findlay gesê.

Daar is beslag gelê op ammunisie vir ’n .38 Special-vuurwapen en ander wapens.

Die polisie het Mothata se vriendin se huis in Phagameng deursoek waar hulle op vermoedelik gesteelde huishoudelike items beslag gelê het.

Drie verdagtes, Roslyn Lekalakala (23), Johannes Modiba (40) en Samuel Modiba (38) is dieselfde dag in hegtenis geneem en by die Modimolle-polisiestasie aangehou, het Findlay gesê. ’n Saak van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie is geopen.

Volgens Findlay het die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in sektor 3 die polisie op Maandag 22 Oktober laat weet dat iemand ’n wit Toyota Hilux waarna die polisie soek, by die Doornfonteinwinkel opgemerk het.

Met die polisie se aankoms het dit geblyk dat die verdagte dorp toe is om remvloeistof vir sy voertuig te koop.

Die polisie het die voertuig dopgehou en Mothata het ná ’n ruk opgedaag. Hy is in hegtenis geneem en sou op Woensdag, 24 Oktober in die hof in Modimolle verskyn het, het Findlay gesê.

Related Articles

Back to top button