CrimeNews

Dwelmsaak weer in hof

Die straatwaarde van die dwelms word op ongeveer R206 000 geraam.

Die man en vrou van Gauteng wat glo begin Oktober met 4 120 sakkies nyaope betrap is, se hofsaak het verlede week in die Bela-Bela-landdroshof voortgeduur.

Die Bela-Bela-polisie het op Dinsdagoggend 2 Oktober tydens ’n klopjag op die R101-pad na Radium op die vonds afgekom. Die dwelms was in melkpoeierhouers versteek.

Sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê beamptes het ’n minibus naby die Bela Mall afgetrek en by nadere ondersoek die dwelms ontdek. Die verdagtes het gesamentlik vyf selfone in hul besit gehad, het Van Zyl gesê. Die straatwaarde van die dwelms word op ongeveer R206 000 geraam.

Solomon Sello Khoza (28) en Anna Baloyi Mataboge (26) is aangekla van die verspreiding en besit van dwelms.

Hulle borgtogaansoek het op Vrydag 19 Oktober in die hof voortgeduur, maar is uitgestel na Woensdag 24 Oktober wanneer die hof uitspraak sal lewer.

Albei bly in aanhouding.

  • Nyaope is ’n samestelling van dagga en heroïen, maar daar is al gevind dat dwelmhandelaars huishoudelike produkte en medikasie by die dwelm voeg.

Related Articles

Back to top button