CrimeNews

Mans slaan op die vlug

Die Modimolle-polisie was stomgeslaan van verbasing oor ’n vonds nadat hulle ’n verdagte minibustaxi agterna gesit het.

Kapt. Michael Motadi, bevelvoerder van sigbare polisiëring, wou die minibus Vrydagaand 19 Oktober van die pad trek om ondersoek in te stel.

Die bestuurder van die voertuig, wat drie insittendes gehad het, het glo weggejaag.

“Die voertuig het in ’n oop stuk veld naby Joe Slovostraat tot stilstand gekom en die bestuurder en sy twee passasiers het weggehardloop,” het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.

Een van die passassiers, die 36-jarige Jonas Thoko, is volgens die polisie vasgetrek en het die afgelope week in die hof verskyn op klagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die ander twee verdagtes is steed op vrye voet.

Die minibus was volgens die polisie volgelaai met twee motorfietse, drie vierwielmotorfietse, linne en messegoed.

“Ons het die eienaar van die minibus, wat in Soshanguve woon, opgespoor. Hy het aan ons gesê hy het die voertuig Modimolle toe gestuur om kerkgangers op en af te laai. Ons ondersoek die saak verder,” het Findlay aan die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button