LettersOpinion

Stel leerders se belange eerste

Dit maak glad nie sin nie dat ’n leerder wat in Bronkhorstspruit woon, kan skoolgaan in die Pretoria Moot-gebied tensy die leerder plek gekry het by die skool nadat leerders uit die direkte omgewing reeds plek gekry het.

Philip van Staden, VF Plus: Gautengse wetgewer, skryf:

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, se nuwe voorgestelde regulasies op die wysiging van skole se voedingsgebiede, sal op algehele chaos afstuur indien die re-gulasies aanvaar word.

Skole se voedingsgebiede beslaan tans ’n radius van 5 km. Dit beteken dat leerders wat binne ’n radius van 5 km van die skool woon of wie se ouers daar werk, beskou word as leerders in ’n natuurlike voedingsgebied.

Hierdie leerders kry plasingsvoorkeur by die meeste skole. Die meeste skole aanvaar wel leerders van buite die natuurlike voedingsgebied indien daar ná plasings plek beskikbaar is.

Lesufi wil nou die radius van voedingsgebiede verander na 30 km. Dit is volgens die regulasiewysigings wat die LUR op 30 Julie 2018 in die staatskoerant gepubliseer het. Sedertdien is meer as 10 000 besware teen die wysigings aan die departement van onderwys in Gauteng oorhandig.

Die VF Plus in Gauteng is van mening dat, indien Lesufi dit regkry om die voedingsgebiede te verander, algehele chaos in die provinsie sal uitbreek. Dit maak glad nie sin nie dat ’n leerder wat in Bronkhorstspruit woon, kan skoolgaan in die Pretoria Moot-gebied tensy die leerder plek gekry het by die skool nadat leerders uit die direkte omgewing reeds plek gekry het.

Die VF Plus is glad nie ten gunste van hierdie wysigings nie en ondersteun skole wat ook hieroor bekommerd is. Die VF Plus is van mening dat leerders uit ’n bestaande natuurlike voedingsgebied nie plek gaan kry by skole in hul direkte omgewing nie en dit gaan ouers in die provinsie nog onder verdere finansiële druk plaas.

Lesufi moet besef dat primêre- en sekondêre leerders gebiedsgebonde is en nie soos studente by enige universiteit kan gaan studeer nie. Die VF Plus glo dat ouers sal moet rondskarrel om kinders in ’n skool geplaas te kry en dat kinders se lewens op die spel geplaas sal word deur hulle na verder plekke te vervoer. Die verkeer in Gauteng is baie druk en die paaie is glad nie veilig nie. Lesufi se nuwe regulasies sal meer verreikende gevolge inhou as wat daar besef word.

Die VF Plus wil dit sterk beklemtoon dat Lesufi met hierdie nuwe regulasies sy eie laksheid wil verbloem.

Die nasionale raad van provinsies het in September 2018 die provinsie besoek en bevind dat 142 nuwe skole benodig word. Altesame 85 primêre skole moet gebou word om ’n tekort van 3 166 klaskamers uit te skakel. Altesame 57 sekondêre skole moet gebou word om ’n tekort van 2 388 klaskamers uit te skakel en altesame 11 4000 nuwe leerders stroom Gauteng jaarliks binne.

Nuwe skole, wat wel gebou word teen ’n koste van R249 miljoen, staan al vir langer as ’n jaar leeg soos in die geval met die Nokhuthula Centre and Special School in Lyndhurst, Johannesburg.

Die VF Plus glo die tyd het aangebreek dat die ANC in Gauteng met ’n nuwe regering vervang word wat bestaan uit ’n koalisie van opposisiepartye en dat lakse LUR’e soos Lesufi, vervang moet word met bekwame en doelgerigte mense wat kan beplan, bestuur en leerders se belange eerste stel.

Related Articles

Back to top button