Local newsNews

Mookgophong (Naboomspruit) spog nou met 10 nuwe stoptekens

Afriforum-lede en amptenare van die plaaslike verkeersdepartement het aan die werk gespring en begin om nuwe verkeerstekens by kruisings op te rig.

AfriForum se tak in Mookgophong het tydens hul #OnsDorp-veldtog die verkeersafdeling in die dorp bygestaan om nuwe verkeerstekens in die woongebied op te rig.

Die veldtog is daarop gemik om probleme wat in dorpe voorkom self op te los.

Lede van die tak en amptenare van die plaaslike verkeersdepartement het op Maandag 1 Oktober aan die werk gespring en begin om nuwe verkeerstekens by kruisings in dié dorp op te rig.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van AfriForum se Mookgophong-tak, beskou hulle die projek as ’n prioriteit omdat die ontbrekende tekens inwoners se veiligheid bedreig.

“Ons wil graag verseker dat ons dorp ’n veilige hawe vir alle inwoners is. Ontbrekende verkeerstekens by stopstrate kan groot ongelukke veroorsaak en daarom het ons tak inisiatief geneem en dit self vervang,” het hy in ’n mediaverklaring gesê.

AfriForum het altesame 10 verkeerstekens aangekoop, wat uiteindelik regoor die dorp by gevaarlike kruisings operig is.

Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die dorp, het saam met Trevor Webster van die verkeersafdeling in die dorp, die eerste paar stoptekens opgerig. Volgens Van Staden en Webster is die projek op Maandag 15 Oktober afgehandel.

“Daar was ’n klompie van die stoptekens wat deur vandale met spuitverf beskadig is wat met nuwes vervang is. Dit is ons bydrae vir ’n veilige dorp,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

Verskeie stoptekens is ook in die verlede vervang wat deur vandale afgebreek of beskadig is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button