CrimeNews

Skelms vas nog vóór klaer saak maak

’n Informant het die polisie laat weet dat daar twee verdagtes by Standard Bank in die dorp is.

Die flinke optrede van die Modimolle-polisie het daartoe gelei dat twee verdagtes vasgetrek is nog voordat daar ’n klag teen hulle gelê is.

’n Polisie-informant het op Woensdag 10 Oktober om 15:55 die polisie laat weet dat daar twee verdagtes by Standard Bank in die dorp is. Sers. Amanda Rossouw van die polisie het die twee dopgehou en gesien dat hulle wegry in ’n Toyota Tazz, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, gesê.

“Sy het die voertuig gevolg en bystand aangevra. Die voertuig is voorgekeer en deursoek. Terwyl sers. Rossouw haarself aan die bestuurder van die motor voorgestel het, het sy gesien dat die passassier ’n bankkaart in sy hand het. Hy het die kaart gebuig en wou dit weggooi, maar sy het gekeer. Die polisie het beslag gelê op die bankkaart, asook R2 800 kontant,” het hy gesê.

Op dié stadium was daar nog geen klag by die polisie aanhangig gemaak nie.

“Die twee verdagtes, wat van Mahwelereng afkomstig is, is in hegtenis geneem. Enkele minute later het die klaer by die polisie opgedaag en gesê dat haar bankkaart by die kitsbank gesteel is en dat R2 900 onttrek is,” het Findlay gesê.

’n Uitkenningsparade is op Donderdag 11 Oktober gehou waarna die verdagtes in die hof sou verskyn.

“Modimolle het onlangs deurgeloop onder ’n vlaag kaartdiefstalle by kitsbanke. Dit is moontlik dat dié twee mans verbind kan word met van die ander sake,” het Findlay gesê.

Related Articles

Back to top button