Local newsNews

Oudburgemeester Koos Opperman sterf

Opperman het ’n leidende rol gespeel in die oorgang en voortsetting van die eerste dorpsraad ná die 1994-verkiesing.

Die afsterwe van Koos Opperman (80), oudburgemeester van Mookgophong op Vrydag 12 Oktober, word deur inwoners betreur.

Opperman het diep spore in Mookgophong getrap. Volgens Freek Swanepoel, wat saam met Opperman op verskeie rade gedien het, was Opperman onder meer raadslid van die ou Naboomspruit Dorpsraad, die Naboomspruit Stadsraad, die Naboomspruit Oorgangsraad en die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit.

Hy het ’n leidende rol gespeel in die oorgang en voortsetting van die eerste dorpsraad ná die 1994-verkiesing, het Swanepoel gesê.

Volgens Swanepoel was Opperman vir hom soos ’n pa. “Die begrip waarmee hy mense behandel het, sal my altyd bybly.”

Opperman was van 1992 tot 1995 burgemeester van Naboomspruit.

Hy is op 15 Maart 1938 op Biesiesvlei in die Lichtenburg-omgewing gebore waar sy pa vir iemand geboer het. Nadat sy pa oorlede is, het hy by sy tannie in Boksburg gaan bly en aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer.

Ná skool het hy by die Boksburg-stadsraad begin werk en later by Colgate. Die NG Kerk het hom genader met ’n werksaanbod en hy het die sendingsekretaris van die kerk geword waarna hy na ’n sendinghospitaal by Mogalakwena in die Mokopane-omgewing verhuis het.

Hy en sy vrou, Minnie, het tot 1969 daar gewoon en toe na Pretoria verhuis waar hy as skakelbeampte tussen die kerk en die sendinghospitale gedien het.

Hy en sy swaer het in 1975 die meule in Mookgophong, destyds bekend as Naboomspruit, gekoop en hulle het tot in 2009 in die dorp gewoon waarna hulle in Kleinfontein gaan aftree het.

Opperman was ook betrokke by die po-litiek en was ’n stigterslid van die Afrikaanse Protestante Kerk in Mookgophong.

“Ons onthou Pa as iemand wat baie regverdig was en ’n groot liefde vir sy volk gehad het. Hy het só geleef om daar ’n verskil te maak. Ons onthou Pa as ’n diep gelowige, wat sy vertroue op God geplaas het,” het sy dogter Magdaleen Greyvensteyn, gesê.

Hy word oorleef deur sy vrou Minnie, sy dogter Magdaleen Greyvensteyn wat in Mookgophong woon, twee seuns Flip en Karel Opperman, asook sewe kleinkinders. Hy is op Donderdag 18 Oktober in Kleinfontein begrawe.

Related Articles

Back to top button