CrimeNews

Zimbabwiër glo sonder lisensie betrap

’n Zimbabwiese man is van strafbare manslag aangekla. Hy het ook geen rybewys of wettige dokumentasie by hom gehad nie

Een van die vragmotorbestuurders wat betrokke was in die gru-ongeluk op die N1-snelweg op Donderdag 11 Oktober buite Bela-Bela is in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy glo onwettig in die land is en ook nie ’n rybewys besit nie.

Verkeer het in die vroeë oggendure tot ’n stilstand gekom nadat twee trokke naby die Settlers- en Bela-Bela-afrit op die snelweg gebots het.

Volgens Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, het een van die trokke 10 voertuie noordwaarts vervoer en die vrag is tydens die slag van die trok afgegooi en beskadig.

Twee mense, wie se name nie deur die owerhede bekendgemaak is nie, is op die toneel oorlede en nog ander is beseer, het Moremi gesê.

Die snelweg was ure lank vir verkeer gesluit terwyl die ongelukstoneel opgeruim is. Die meeste verkeer is deur Bela-Bela herlei.

Die polisie het Tatenda Zhou (29), ’n Zimbabwiese man wat glo een van die trokke bestuur het, op die toneel in hegtenis geneem. Die passasiers wat hy in sy trok vervoer het, het die ongeluk oorleef, het ’n woordvoerder van die Bela-Bela-polisie gesê.

Volgens die woordvoerder het Zhou geen rybewys of wettige dokumentasie by hom gehad nie.

Hy word van strafbare manslag aangekla en ook dat hy in terme van die verkeerswet nie ’n geldige rybewys gehad het nie. Voorts word beweer dat hy onwettig in die land is.

Zhou het op Maandag 15 Oktober in die Bela-Bela-landdroshof op die aanklagte verskyn.

Sy saak is na Maandag 22 Oktober uitgestel sodat hy om borgtog aansoek kan doen.

Hy is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button