Local newsNews

Kokanje-inwoner (102) sterf

“Ek het tot onlangs nog nooit ’n dag se siekbed gehad nie. Ek was nog altyd gesond.”

’n Groot ou boom het saggies in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle geval.

Nico Venter is op Dinsdag 9 Oktober op 102-jarige ouderdom in die aftreeoord se versorgingseenheid oorlede.

Hy het op 20 Junie sy 102e verjaardag gevier. Hy het bykans 30 jaar in Kokanje gewoon en was een van die oord se eerste inwoners.

Venter het sy vrou Rina (83) op die aftreeoord se rolbalbane ontmoet. Hy was voorheen met Elsie getroud en het drie dogters Iréne, Janette en Ohna.

Venter is meer as ’n eeu gelede in Petrusville in die Karoo gebore en het ook daar grootgeword.

Ná skool het hy ’n B.Com-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en later by die Ekonomiese Ontwikkelingskoöperasie in die Transkei gewerk. Sy stokperdjies was houtwerk en fotografie en het hy sy eie films ontwikkel en vergrotings gemaak.

“Ek het tot onlangs nog nooit ’n dag se siekbed gehad nie. Ek was nog altyd gesond,” het Venter kort ná sy 100e verjaardag aan Die Pos gesê.

Sy dogter Ohna beaam dit. “Hy was nooit siek nie en het tot op 93-jarige ouderdom nog rolbal gespeel.”

Sy begrafnis word op Donderdag 18 Oktober om 14:00 in die NG-gemeente Waterberg (Witkerk) gehou. Hy laat sy vrou Rina en sy drie dogters agter, asook vyf kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Related Articles

Back to top button