CrimeNews

Nóg ’n aanval op plaaswerkers

“Boere is stelselmatig besig om bymekaar te kom en saam te staan. Voertuie met nommerplate van ander provinsies word deesdae in die omgewing opgemerk.”

“Plaaswerkers word veral deesdae slagoffers van aanvalle, veral oor betaalnaweke.”

Dit is die mening van Dawie Esbach, voorsitter van die Tuinplaas-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), nadat nóg ’n plaasweker en sy vrou op Sondag 30 September om 02:00 op die plaas Goedvoor in die Tuinplaas-omgewing deur booswigte oorval is.

Twee rowers het na verneem word in die nag eers by Goedvoor se plaasstoor ingebreek en gereedskap gesteel. Daarna het hulle toegang tot ’n werkershuis verkry deur die veiligheidstralies voor ’n venster oop te breek, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag gesê. Die plaas is ongeveer 4 km vanaf die Morolong-kafee naby Tuinplaas geleë.

’n Plaaswerker, Alfred Lingela, se hande is daarna in die werkershuis vasgebind terwyl sy vrou, Annie Selema, onder ’n bed weggekruip het.

Die rowers het Lingela na die plaaseienaar se huis geneem waar hulle ook, volgens Ngoepe, die veiligheidstralies van ’n venster oopgebreek het om toegang te kry. Lingela se voete is daar vasgemaak, waarna die rowers hom in ’n kas toegesluit het. Die plaaseienaar, Johan Jacobs, was nie ten tyde van die gebeure tuis nie.
Intussen het Selema, wat onder die bed weggekruip het, gaan hulp soek.

Die rowers was nog besig om die kluis in die huis oop te saag toe bure opgedaag het, waarna die rowers op die vlug geslaan het.

Jacobs het by navraag gesê die plaas het ’n ruk gelede ook onder diefstal deurgeloop en ’n verdagte voertuig is glo op Saterdag 29 September in die omgewing gesien.

“Die man en sy vrou is reeds terug by die werk en al wat ons nou kan doen, is om beter veiligheidsmaatreëls aan te bring,” het Jacobs gesê.

“Die boere is stelselmatig besig om bymekaar te kom en saam te staan. Ons hou reeds baie vergaderings met die polisie en vra meer hulp,” het hy gesê.
Volgens hom word voertuie met nommerplate van ander provinsies deesdae in die omgewing opgemerk.

“Jy kan sien dat hulle nie in hierdie omgewing hoort nie en ons het ’n vermoede dat van hulle by van die misdade betrokke is,” het Esbach gesê.

Esbach doen ’n beroep op die inwoners om deel te word van die veiligheidsnetwerk. Hoe meer mense betrokke raak, hoe vinniger kan die probleme in die omgewing in die kiem gesmoor word, was sy woorde.

Vir navrae en in die geval van nood, kan mense Esbach bel by tel. 079 685 4585.

Die verdagtes in die nuutste aanval is steeds op vrye voet, het Ngoepe gesê.

  • Lede van die Waterberg Agri Sekuriteits-polisiëringsektore-veiligheidsgroep (WASPS) het ’n mes die oggend ná die voorval naby Lingela se woning gevind. Dié mes is, volgens Barend Pienaar van WASPS, moontlik verlede jaar tydens ’n plaasaanval in die Roedtan-omgewing gesteel. Pienaar het gesê die polisie gaan nou moet bepaal of die voorvalle met mekaar verbind kan word. Die eienaar van die mes is reeds opgespoor.

AANVALLE OP WERKERS – Só lyk die syfers:

Aanvallers wat inwoners op plase teiken, ontsien niemand nie.

Dit blyk uit die vlaag aanvalle in die Waterberg-omgewing waarin plaaswer-kers in 2018 aangerand en beseer is.

Buiten die aanval op Alfred Lingela en Annie Selema op Sondag 30 September op die plaas Goedvoor in die Tuinplaas-omgewing is nóg ’n werker die vorige aand in dié omgewing aangerand. Thomas Moya van die plaas Uitkoms is brutaal deur sy aanvallers aangerand.

Waterberg Agri Sekuriteitspolisiëring-sektore-veiligheidsgroep (WASPS) hou boek van alle aanvalle op plase en het statistiek aan Die Pos verskaf:

  • Op Saterdag 1 September om 02:30 is Simon Lekalakala, ’n inwoner op die plaas Middelfontein (tussen Modimolle en Mookgophong) deur vier gewapende mans in sy huis oorval en aangerand.
  • Op Woensdag 12 September is daar glo ook, volgens WASPS se aanvalle-lys, plaaswerkers in die Sterkstroom-gebied buite Modimolle deur rowers oorval.
  • In Mei vanjaar het Die Pos ook berig oor ’n skokkende voorval waar vier rowers plaaswerkers aangeval en ’n vrou verkrag het.
    AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, moedig boere aan om hul werkers se veiligheid ook op te skerp. “Die rowers weet dat hulle sagte teikens is en dikwels die sleutels na store of die huis by hulle het. Selfs al het hulle nie sleutels nie, weet hulle waar alles gebêre word,” het hy gesê.
    “Een van die veiligheidsmaatreëls wat van die boere tref, is om vir die werkers ’n afstandbeheer te gee,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button