CrimeNews

Vierde verdagte vas

Die beamptes het ’n man glo gedreig dat hulle hom van geldwassery gaan aankla sou hy hulle nie betaal het nie.

Skaars ’n week nadat drie polisiebeamptes deur lede van die direktoraat vir voorkeurmisdaadondersoeke (die Valke) in hegtenis geneem is weens verskeie klagte, is ’n vierde beampte ook in hegtenis geneem.

Die hof het op Dinsdag 2 Oktober aan dié vier beamptes borgtog toegestaan.

 

Konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) wys ’n kwaai vinger in Die Pos se rigting op dag een van die vier beamptes van Bela-Bela se borgtogaansoek in die hof.

 

Sers. Humbulani Mulaudzi (39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33) en konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) is op Vrydag 21 September deur die Valke by die Bela-Bela-polisiestasie in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie, ontvoering en gewapende roof. Die vierde beampte, konst. Simon Sebelebele (40), is op Vrydag 28 September op dieselfde aanklagte in hegtenis geneem.

Kapt. Matimba Maluleka, Valke-woordvoerder, het vroeër gesê die beamptes het glo op Vrydag 7 September ’n man van Bela-Bela van R190 000 beroof.

Maluleke het gesê die beamptes het die klaer glo van ’n plaaslike dobbelplek vergesel en aangedring dat hy hulle omkoopgeld betaal. Die beamptes het die man glo gedreig dat hulle hom van geldwassery gaan aankla sou hy hulle nie betaal het nie.

 

Sers. Humbulani Mulaudzi (39)

 

Die Valke se ernstige korrupsie-eenheid is ná die voorval met ’n klag genader waarna die inhegtenisnemings plaasgevind het.

Die vier beamptes se borgtogaansoeke het op Maandag 1 Oktober en Dinsdag 2 Oktober in die hof voortgeduur.

Die beskuldigdes het blitsvinnig uit die hofselle na die hofsaal beweeg sodat die reuseskare, asook die media hulle nie vir lank kon sien nie. Die hof was tydens hulle eerste verskyning só stampvol dat die polisie mense gevra het om die hof te verlaat.

 

Konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33)

 

Die Valke het teen Dinsdagmiddag in ’n verklaring gesê die hof het borgtog van R5 000 elk aan die beamptes toege-staan en dat hul saak weer op Vrydag 9 November hervat word.

Maluleke het gesê die beamptes sal eers vrygelaat word sodra hulle die borggeld betaal het.

Die Bela-Bela-polisie het aan Die Pos bevestig dat die beamptes steeds as aktiewe polisielede geskors is terwyl die hofsaak en interne ondersoeke afgehandel word.

Related Articles

Back to top button