CrimeNews

Duisende sakkies dwelms gevind

Die totale straatwaarde beloop R206 000.

’n Man en ’n vrou van Gauteng is in die sop nadat die Bela-Bela-polisie op Dinsdag-oggend 2 Oktober duisende sakkies nyaope tydens ’n inligtingsgedrewe polisieklopjag op die R101 na Radium gevind het.

Sers. Hester van Zyl, Bela-Bela-polisie-woordvoerder, het gesê die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het inligting ontvang dat ’n groot klomp dwelms in die rigting van Bela-Bela op pad was.

Beamptes het Dinsdag ’n minibus naby die Bela Mall afgetrek en die inhoud deursoek.

Die beamptes het twee verromerbokse met 4 120 sakkies nyaope gevind. Daar is gesamentlik op vyf selfone van die man en vrou beslag gelê, het Van Zyl gesê.

Die totale straatwaarde van die nyaope beloop R206 000, het sy bygevoeg.

Nyaope is ’n samestelling van dagga en heroïen, maar dwelmhandelaars voeg soms huishoudelike produkte, asook medikasie by die dwelm.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Bela-Bela-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn, het Van Zyl gesê.

  • Hoewel die grondwethof vroeër bepaal het dat dagga nou in privaat gebruik kan word, sal enige persoon wat met ander dwelmmiddels gevang word in hegtenis geneem word, het die polisie vroeër aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button