CrimeNews

Peterson-moordverdagte se borgtogaansoek wéér uitgestel

Een van die beskuldigdes in die moordsaak op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela het op Dinsdag 25 September vlugtig in die Bela-Bela-landdroshof verskyn om te hoor of sy borgtogaansoek voortgaan of nie.

Die hof het Lucas Masingi ’n kans gegun om weer om borgtog aansoek te doen nadat nuwe getuienis in die saak glo na vore gekom het.

Die Peterson-egpaar is in September 2017 op hul plaas buite die dorp aangeval en beroof. Pattie is in die maag geskiet en Cecil in die gesig. Sy is op die toneel oorlede en Cecil ses weke later in die hospitaal.

Die Bela-Bela-polisie het kort ná die voorval, in samewerking met lede van die Heritage Protection Group (HPG), vyf verdagtes in hegtenis geneem. Die meeste van hulle is Hammanskraal-inwoners.

Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana, Tshepo Tebula, Lucas Masingi en Thato Surprise Maringa is aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van gesteelde eiendom en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, het vroeër in die hof getuig dat die polisie se ondersoek bepaal het dat Maringa met Mathebula, Tebula en Masingi in gesprek was voor die aanval op die Petersons plaas-gevind het. Mathebula, Tebula en Masingi het egter nie kontak met mekaar gehad nie, maar slegs met Maringa, het Schutte getuig. Op die dag van die roof was daar meer kommunikasie tussen hulle. Maringa was ten tyde van die voorval uit op borgtog, is in die hof gesê.

Ná ’n jaar in aanhouding het die hof aan die begin van September bepaal dat Mathebula, Nkonyana, Tebula en Maringa weer in Maart aanstaande jaar in die hooggeregshof in Lephalale sal verskyn weens die ernstige aard van die misdaad wat gepleeg is, is in die hof gehoor.

Masingi se borgtogaansoek is egter nog nie afgehandel nie.

Sy saak is uitgestel na Donderdag 4 Oktober vir sy borgtogaansoek om verder aangehoor te word. Hy is steeds in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button