Local newsNews

Inwoner koester mooi herinneringe van dorp

Vaalwater groet op Maandag 15 Oktober een van dié dorp se bekende inwoners, Hannie Grobler (70), wat na ’n aftreeoord in Pretoria verhuis.

Grobler het haar huis, wat skuins oorkant Laerskool Vaalwater was, onlangs verkoop. Sy het in 2014 van Bloemfontein na Vaalwater getrek nadat familie haar aangemoedig het om nader aan hulle te trek.

Sy het ses kinders grootgemaak. Wilmie Vosloo (47) hou skool in Bloemfontein, Chrisnie Pagama (45) bly in Amerika en is ’n histoloog, Phillip (40) doen stadsontwikkeling en het sy eie onderneming in Pretoria. Johannie Gillmore (38) woon in Christchurch, Nieu-Seeland, en is ’n kleuterskoolonderwyser en Michelle en Cheryl Grobler (24), haar tweeling, hou albei in Lephalale skool.

“Ek het my kinders van kleins af aangemoedig om eers die wêreld te verken voordat hulle met hul studies begin het.”

Grobler spog verder met nege kleinkinders, vyf meisies en vier seuns, waarvan drie seuns Phillip se kinders is.

Grobler het vertel dat sy en haar oorlede skoonma, Christine Grobler, destyds toe sy nog in Bothaville gewoon het, op uitstappies na die Oosterse mark in Johannesburg gegaan en dat hul albei gevoel het asof hulle op ’n onvergeetlike oorsese reis was. Sy is vreeslik lief vir lap en ou meubels. Dit is met hierdie einste meubels waarmee Grobler en ’n niggie, Rina Brink, die perdestalle in Bloemfontein regoor die ou presidensiegebou, waar presidente J.H. Brand en M.T. Steyn onder meer gewoon het, destyds in ’n restaurant omskep het.

Grobler het aan Die Pos gesê sy is gereed om te verhuis.

“Dit was vir my heerlik hier. Juis omdat ek lief is vir die plaaslewe, het dit my goed gepas om ’n Valie te wees.” Die afgelope tyd het sy egter onrustig begin raak. “Ek het een oggend 03:00, toe ek wonderbaarlik nie kon slaap nie, my bedliggie aangeskakel. Ek het so rukkie gelees en toe die hand bo aan my gordyn gesien. Ek het soos ’n barbaar geskree, my boek na die venster geslinger en agterna geskree ‘as jy ooit weer jou voete hier neersit, sal ek jou doodmaak’.”

Grobler het vertel daar was daarna nog ’n voorval waar sy wakker geword het van ’n oranje gloed toe die oop stuk veld langs haar huis gebrand het met uitermatige hoë vlamme.

“Gelukkig waarsku die gemeen-skapspolisiëringsforum (GPF) ’n mens gedurig om nie uit te gaan nie,” het sy gesê. “Die vermoede is sterk dat die plan was om my uit die huis te lok. Die GPF was baie gou op die toneel en het gesê daar was brandstof al langs die draad gegooi. “Ten spyte van dié gebeure dink ek nie ek sou getrek het as my seun nie die plekkie in Pretoria vir my gekoop het nie. Die kinders voel seker bekommerd.”

Grobler het gesê sy gaan nader aan van die kinders wees en dat die einste familie wat haar hierheen laat trek het, nou in Pretoria bly en ook vir haar wag. Grobler het met ’n sagte uitdrukking laat hoor: “Waar die Here is, sal dit met my goed gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button