Local newsNews

Dagga nou wettig om by die huis te gebruik

Landsburgers kan nou, ná afloop van adjunkhoofregter Raymond Zondo se uitspraak in die Grondwethof, dagga wettig in privaat wonings gebruik.

Dit volg nadat respondente die reg tot privaatheid in terme van die grondwet bevraagteken het met betrekking tot mense wat in hul privaat hoedanigheid van dagga gebruik wil maak.

Talle ander organisasies en landsburgers het dié stap om daggagebruik te wettig gesteun, waarna die saak in die hoogge-regshof en in die grondwethof gedraai het.
Zondo het sy uitspraak oor dié aangeleentheid op Dinsdag 18 September gelewer.

Dit blyk uit Zondo se uitspraak, waarvan Die Pos ’n afskrif het, dat die wet op dwelms- en dwelmverspreiding, asook die beheer van medisyne en verwante stowwe-beleid, teenstrydig is oor ’n persoon se reg tot privaatheid.

Die dwelmwet het voorheen bepaal dat privaat gebruik en om dagga te kweek ’n kriminele oortreding is.

Noudat Zondo dié regte toegestaan het, is die besit van dagga egter beperk tot ’n persoon se privaat woning, maar Zondo se uitspraak het egter nie uitsluitsel gegee oor watter plekke as privaat beskou word nie.

Hy het in sy uitspraak erken dat die verspreiding van dagga ’n ernstige probleem in die land is. Hy het voorts gesê die hof het geen bedoeling om die verspreiding van dagga as ’n misdaad te dekriminaliseer nie.

Dié uitspraak gaan ’n uitdaging vir die polisie wees.

Zondo het gesê wanneer ’n beampte vermoed iemand besit dagga of die persoon word met dagga betrap, gaan hy moet bepaal of die dagga wat in die persoon se besit gevind vir privaat gebruik is of nie. Indien die beampte onseker is oor die gebruik daarvan, kan die polisie nie die persoon in hegtenis neem nie tensy ander dwelms in sy of haar besit gevind word, het Zondo gesê.

In die Bela-Bela-omgewing is dwelmprobleme tans ’n groot kopseer.

Volgens die nuutste nasionale misdaadstatistiek is 853 dwelmverwante sake tussen Maart 2017 en April vanjaar deur die Bela-Bela-polisie ondersoek, wat ’n styging van 39,8% teenoor die vorige jaar toon.

Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het oor die grondwethofuitspraak gesê dat die polisie nie meer mense in hegtenis neem wat met klein hoeveelhede dagga betrap word nie.

Die wet op dwelms- en dwelmverspreiding van 1992 het voorheen bepaal dat enigiemand wat met 115 g dagga gevang word, daarvan verdink word dat hulle by dwelmhandel betrokke is.

“Die polisie se nasionale kantoor het ’n riglyn deurgestuur dat ons nou slegs mense wat met 3 kg dagga of meer betrap word, in hegtenis mag neem. Mense wat dagga wil rook, kan dit nou ná die uitspraak slegs by hulle wonings doen,” het hy verduidelik.

“Om dagga te koop en te verkoop is steeds ’n misdaad en enige ander sterker dwelmmiddel, soos nyaope, kan mense steeds in die tronk laat beland.”

Phetla het voorts gesê dat nyaope in die omgewing veral ’n probleem is.

Volgens inligting van die Houghton House rehabilitasiesentrum in Johannesburg is nyaope (of whoonga) ’n samestelling van dagga en heroïen, wat mense kan snuif, inspuit of rook. Dit word gesien as een van die dwelms in die land waaraan mense maklik verslaaf raak.

Dwelmhandelaars het die samestelling gedoen om heroïen, wat die basis van die dwelm is, teen ’n goedkoper prys te verkoop, en om meer geld te maak, volgens die sentrum.

Bestanddele wat al in nyaope gevind is, sluit in efedrien (wat in dieetpille en sport-aanvullings gevind word), skoonmaakmiddels, arseen (insekdoderprodukte) en antidepressante.

Daar is ook ’n paar gevalle, luidens die sentrum, aangeteken waar rotgif, televisie buispoeier, veelvuldige sklerose medikasie en antiretrovirale medikasie in dié dwelm aangetref is.

“Inwoners kan steeds die polisie in kennis stel sou hulle bewus word van iemand in hul omgewing wat dagga of ander dwelms verkoop,” het Phetla gesê.

Van die wette moet nou gewysig word om die uitspraak van die grondwethof te staaf. Zondo het die parlement 24 maande gegee om die dwelmwet, asook die medisyne-beleid, te hersien.

Related Articles

Back to top button