CrimeNews

Vermeende diewe se hofsake duur voort

Twee ander verdagtes wat moontlik by die inbrake betrokke was, word steeds gesoek.

Vier verdagtes, wat verbind word met huisbraaksake in Bela-Bela en die omgewing, se hofsake het verlede week in die Bela-Bela-landdroshof voortgeduur.

Lede van die Bela-Bela-polisie se misdaadvoorkomingseenheid het Enzo Mucheo, ’n Zimbabwiese immigrant, op Maandag 27 Augustus in hegtenis geneem nadat hy verbind is met die vlaag inbrake wat sedert Junie by die Verloren Lifestyle Estate tussen Modimolle en Bela-Bela plaasgevind het.

Die polisie het tydens die inhegtenisname verskillende soorte ammunisie, asook twee windbukse in sy besit gevind. Twee ander verdagtes wat moontlik by die inbrake betrokke was, word steeds gesoek, het die polisie vroeër gesê.

Mucheo verskyn op aanklagte van huisbraak, asook vir die besit van ammunisie.

Hy het op Donderdag 27 September weer in die hof verskyn waarna sy saak na Dinsdag 30 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel is. Hy is steeds in aanhouding.

Drie verdagtes van Hammanskraal was ook op Donderdag 27 September weer terug in die hof nadat hulle op Woensdag 15 Augustus by ’n huis op die hoek van Grobler- en Moffatstraat ingebreek het, het die polisie vroeër aan Die Pos gesê.

Die eienaars was nie ten tyde van die inbraak tuis nie.

’n Inwoner het die polisie op die dag van die inbraak in kennis gestel dat daar ’n verdagte man buite die hek gestaan en rondgekyk het. Polisiebeamptes het spoedig gereageer en vir Thabo Baloyi, Vincent Manganye en Piet Baloyi aangekeer, het die polisie gesê.

Deur ondersoek is daar bevind dat die verdagtes hul rooi Corsa-bakkie by die Bela-Bela-munisipaliteit geparkeer en glo na die huis gestap het om die misdaad te pleeg.
Slegs Piet is op Woensdag 29 Augustus borgtog van R1 000 toegestaan, luidens die klagstaat by die hof.

Hul saak is na Dinsdag 13 November uitgestel vir verhoor en sodat die getuies ook in die hof kan verskyn. Thabo en Manganye is steeds in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button