Local newsNews

Verwoestende veldbrande saai verwoesting om Bela-Bela

“Die vlamme was tot 30 m hoog en my voorstoep het binne sekondes aan die brand geslaan.”

Noodgroepe in die Bela-Bela-omgewing was tussen Woensdag 19 September en Donderdag 20 September behoorlik in rep en roer nadat brande in die Tweefontein-omgewing en bokant die ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord ontstaan het.

Talle lede uit die gemeenskap, grondeienaars, die brandbeskermingsvereniging, Working on Fire, die polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het oor die twee dae gehelp om die brande te beheer.

Brandbestryders het dwarsdeur Woensdag tot in die vroeë oggendure in die Eersbewoond-omgewing brande bestry en in bedwang gebring.

 

Twee erge brande het ongeveer 27 plase in die Tweefontein- en die ATKV-Klein-Kariba-omgewing geraak. Danksy proaktiewe hulp het geen huise afgebrand nie. Op die foto is die helikopter wat ingeroep is om die brande te help beveg. Foto: Herman Steyn.

 

Dié brand was skaars onder beheer toe nog ’n brand uitgebreek het.

Roy Johnston, voorsitter van die Kariba-brandsektor, het by navraag gesê daar het ongeveer 10:00 die Donderdagoggend ’n sterk wind in die Klein-Kariba-omgewing ontstaan wat ’n enkele klein brand in ’n ramp omskep het.

Cor Viljoen, plaaslike slangvanger, het groot geskrik toe hy die brand voor sy woonhuis bokant Klein-Kariba gewaar het.

“Die vlamme was tot 30 m hoog en my voorstoep het binne sekondes aan die brand geslaan,” het hy gesê. “My tuinslang se punt het gesmelt en al wat ek gehad het, was my ketel. Ek het net natgegooi.”

Die brand voor sy huis het gelukkig bedaar. Die huis se vensters het weens die hitte gebars, die houtstoep het gebrand, asook sy satellietskottel.

“Gelukkig het niks binne die huis gebrand nie, maar al die weiding rondom is verbrand. Met daardie wind wat gewaai het, sou brandbane nie eens ’n verskil gemaak het nie.”

Die brand is vyf uur later eers onder beheer gebring.

“Terwyl ons nog in dié omgewing was, het daar om 14:05 weer ’n brand ontstaan. Weens die sterk wind het dit oor die R101-pad gespring en ongeveer 200 m binne ses minute verteer.”

’n Besluit is geneem om ’n noodhelikopter in te roep om die brand vanuit die lug te blus.

Talle bakkies met vuurvegters agterop het die R101 toegestaan terwyl mense die brand beheer en die polisie die aankomende verkeer tot stilstand gebring het. Die rook was op ’n stadium só dig dat die pad nie sigbaar was nie.

Danksy die helikopter is die brand binne 45 minute geblus, het Johnston gesê.

Volgens Johnston was daar geen lewensverlies nie en geen huise het afgebrand nie. Altesame 27 plase is egter deur die brand geraak. Die oorsaak van die twee dae se brande is steeds onbekend, het Johnston gesê.

“Die brandgevaarindeks was oor hierdie twee dae in die rooi wat dit die slegste tyd maak vir brande om te ontstaan omdat dit vinnig kan versprei. Dit is nog moeiliker om dit dan te probeer keer,” het Johnston gesê.

“Die veiligste is om dadelik na oop areas te beweeg indien erge brande weer ontstaan.”

Grondeienaars in die omgewing kon nie uitgepraat raak oor die ongelooflike bystand wat hulle oor die twee dae vanuit alle oorde ontvang het nie.

  • Die brandverbod wat sedert Junie vanjaar ingetree het, is steeds in werking en mense wat betrap word wat oop brande stig kan kragtens die nasionale brandwet vervolg word, het die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging vroeër gesê.

    Brandbane mag sedertdien nie met vuur gemaak word nie en grondeienaars kan dit slegs doen deur meganiese metodes,

    Die verbod kan eers opgehef word sodra dit gereën het.

    “Geen oop brande word toegelaat nie,” het Johnston gesê.

Related Articles

Back to top button