MunicipalNews

Balju gee vullistrokke terug

Dienslewering in die munisipaliteit het ’n reusehupstoot gekry nadat die vullisverwyderingstrok en voertuie wat die waterdepartement gebruik ná ’n hofbeslissing deur die balju terugbesorg is.

Vullis sal binnekort gouer verwyder word en reaksietyd op klagtes oor waterprobleme sal verkort, beloof Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Dienslewering in die munisipaliteit het ’n reusehupstoot gekry nadat die vullisverwyderingstrok en voertuie wat die waterdepartement gebruik ná ’n hofbeslissing deur die balju terugbesorg is.

Luidens hofstukke het die hooggeregshof in Polokwane die balju, Ben Rakgatho, se versoek om te appelleer teen ’n hofbevel van Dinsdag 17 Julie, wat bepaal dat hy die munisipaliteit te se voertuie moet terugbesorg, geweier. Dié hofbevel het ook bepaal dat die balju die regskoste van die aansoek moet dra.

Die hof het in Julie bevind die munisipaliteit het die eiendom waarop beslag gelê is nodig om sy grondwetlike plig om dienste aan inwoners te verskaf, na te kom. Daar is ook bevind indien die voertuie tydens ’n veiling verkoop word, die munisipaliteit weens sy swak finansiële toestand dit moeilik sou vind om weer te vervang.

Dié tameletjie het gevolg nadat dieselfde hof vroeër in die guns van die prokureursfirma Mphoke P.K. Magane Ingelyf besluit het teen die munisipaliteit vir ’n uitstaande rekening. Die hof het toestemming gegee dat die balju beslag lê op beweegbare eiendom ter waarde van meer as R1,8 miljoen. Die voertuie is in Mei verwyder, het Die Pos vroeër berig.

Gideon Ferreira van die prokureursfirma Geyser Ferreira, wat die munisipaliteit se saak behartig het, het vroeër aan Die Pos gesê die munisipaliteit het die rekening wat hulle vanaf Mphoke P.K. Magane Ingelyf ontvang het, ten sterkste betwis. Hulle het die saak ook by die prokureursorde aangemeld.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die spanne se reaksietyd om water- of rioolprobleme te herstel verswak na twaalf uur toe, hoewel hul eintlike teiken drie en ’n half uur is.

“Die tekort aan vier voertuie in die waterdepartement het ’n dramatiese invloed gehad. Vullisverwydering sal nou verbeter en in dorpe soos Vaalwater, waar die voertuig partykeer tot tussen 02:00 en 05:00 soggens moes werk, sal nou kan terugkeer na normaal,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button