Local newsNews

Fietsryer in hospitaal nadat olifant hom stormloop

’n Bergfietsren buite Bela-Bela het tragies geëindig nadat een van die fietsryers deur ’n olifant aangeval en ernstig beseer is.

Tony Marsberg (46) van Vanderbijlpark het op Saterdag 15 September aan die Nissan Trailseeker Lionman-bergfietswedren by die Mabalingwe-natuurreservaat buite Bela-Bela deelgeneem toe die olifant hom bestorm het.

 

Tony Marsberg. Foto: Facebook

 

Marsberg, ’n direkteur van ’n voertuig-onderdelewinkel in Vereeniging, is per noodhelikopter na ’n Gautengse hospitaal geneem. Sover die organiseerders kon vasstel is hy in ’n stabiele toestand.

Fietsryers en atlete het Saterdag en Sondag in groot getalle opgedaag om die Bosveld te geniet terwyl hulle aan die marathonrit (70 km), halwe marathonrit (40 km), pretresies (20 km) of pretrit (10 km) deelgeneem het.

Matie Barnard, bestuurder van Mabalingwe, het by navraag gesê die voorval met die olifant het op ’n aangrensende plaas gebeur wat deel vorm van die groter Mabalingwe-omgewing. Die plaas is egter in privaat besit, het hy gesê.

 

Paramedici dra Tony Marsberg (46) na die noodhelikopter ná die voorval. Dié foto van Marsberg op die fiets is in 2016 geneem.
Foto: Facebook

 

Francois Theron, organiseerder van die wedren, het by navraag gesê die gebeure wat tot die voorval gelei het, is nog ’n raaisel aangesien verskeie weergawes van die atlete en betrokkenes ontvang is. Almal het egter saamgestem dat die alleenlopende olifant op die ryer afgestorm het.

“Almal is nog getraumatiseerd. Ons bestuur het die wilde diere vooraf so goed as wat ons kon dopgehou en beheer, maar dit is die eerste keer in die wedren se geskiedenis dat só iets gebeur het,” het hy gesê.

“Ons volgende wedren vind binnekort in Cullinan plaas waar daar gelukkig nie gevaarlike diere is nie. Ons voer nog samesprekings oor die pad vorentoe; ons kan nie toelaat dat so iets weer gebeur nie.”

Related Articles

Back to top button