Local newsNews

Oproer op N1-snelweg laat verkeer opdam

Betogers het die N1-snelweg, asook die R101 tussen Pienaarsrivier en Hammanskraal versper en het selfs vure op en langs die paaie gemaak.

Motorryers wat op Sondag 16 September op die N1-snelweg na Gauteng of Limpopo gereis het, moes noodgedwonge hul voertuie op die snelweg voor Hammanskraal langs die pad parkeer aangesien die pad gesluit was weens ’n betoging.

Motorryers moes in April en in Julie vanjaar ook ekstra versigtig ry toe betogings daar uitgebreek en die betogers die mure langs die N1 afgebreek en voertuie aan die brand gesteek het.

Die betogers het die N1-snelweg, asook die R101 tussen Pienaarsrivier en Hammanskraal, Sondag versper en het selfs vure op en langs die paaie gemaak. Die oponthoud het tussen 18:00 en 19:00 plaasgevind.

Charmaine van Wyk, Bakwena-woordvoerder, het by navraag gesê die oponthoud het gelukkig net vir ’n uur geduur en verkeersvloei het gou na normaal teruggekeer nadat die betogers die gebied verlaat het.

Volgens inligting wat op noodgroepe gedeel is, spruit die betoging glo uit ontevredenheid oor diensleweringprobleme in die omgewing.

“Dit is nog glad nie duidelik waaroor die betoging presies gegaan het nie en ondersoeke na antwoorde duur voort,” het Van Wyk gesê.

’n Woordvoerder van die Hammanskraal-polisie het by navraag gesê hulle weet ook nie presies waarom Hammanskraal-inwoners die paaie versper het of deel was van die betoging nie.

Die woordvoerder het verder gesê polisielede van die openbare orde-eenheid is sedert Sondag in die omgewing op bystand, sou die betogers weer terugkeer.
Van Wyk het gesê Bakwena-padgebruikers se veiligheid word altyd eerste gestel.

Sy raai mense aan om daagliks gebruik te maak van hul Twitter- en Facebook-bladsye om op die hoogte te bly van enige verwikkelinge en probleme deur @BakwenaN1N4 te volg.

Voorts kan motorryers ook Bakwena se kliëntedienssentrum skakel by tel. 0800 225 9362.

“Mense moet die blou kilometerborde op die paaie dophou en inligting van hul presiese ligging aan die kliëntedienssentrum verskaf wanneer hulle ’n probleem wil aanmeld of hulp benodig,” het Van Wyk gesê.

Related Articles

Back to top button