Local newsNews

Moontlike Suid-Afrikaanse rekords wag op plaaslike jagters

Die Waterberg spog met ses jagters wie se name moontlik in die rekordboeke gaan pryk.

Die Waterbergtak van die Bosveld Jagters- en Wildbewaringsvereniging (BJV) het op Dinsdag 28 Augustus tydens hulle Impala-aand die jaarlikse jagtrofeemeetkompetisie aangebied.

Die geleentheid word jaarliks in Augustus by Hoërskool Nylstroom se Bosvariasaal gehou.

Altesame 20 jagtrofeë wat die afgelope tyd oor die hele Suid-Afrika gejag is, is vir dié kompetisie ingeskryf, gemeet en beoordeel.

Wanneer die jagtrofee die minimum lengte behaal, kwalifiseer dit vir ’n inskrywing in die Suid-Afrikaanse rekordboek indien dit die rekord ewenaar of oorskry, het Jan van Blerk, BJV-voorsitter, gesê.

Daar is tans ses inskrywings van die Waterbergtak wat kwalifiseer vir ’n inskrywing in die rekordboek.

Pat Loots, taklid, het veral tydens die kompetisie uitgestaan met sy bastergemsbok met horings wat die huidige Suid-Afrikaanse rekord oorskry.

Die tak wag nou op die Konfederasie van Jagtersverenigings in Suid-Afrika (Chasa) om dié inskrywings amptelik te erken, het Van Blerk gesê.

Taklede Gerrit Bakker en Willem van Deventer het die aanvanklike beoordeling van Loots se jagtrofee vir die rekordboekinskrywing behartig.

Die tak bied ook sy eie interne kompetisie aan waar daar vasgestel word of die taklede se inskrywings die minimumlengte behaal het om vir die rekordboek te kwalifiseer. Die topprys word tydens die tak se afsluitingsgeselligheid, wat op Vrydag 2 November plaasvind, aan die wenner toegeken, het Van Blerk gesê.

Die Waterbergtak beskik tans oor 16 amptelik gekwalifiseerde beoordelaars (meters) wat deur Chasa erken word.

Related Articles

Back to top button