Local newsNews

Bouwerk aan brug na Bela-Bela-township veroorsaak verkeerschaos

Opeenhopings vind veral by die brug naby die Bela-Bela Waterfront plaas — veral op Vrydae en Saterdae wanneer die dorp besoekers vanaf Gauteng ontvang.

Bouwerk aan die brug in Milestraat by die ingang na die Bela-Bela-township veroorsaak die afgelope twee weke veral oor naweke erge verkeersopeenhopings in die dorp.

Sedert die bouwerk sowat twee weke gelede begin het, kan voertuie nie meer van die R101 by dié ingang inry nie. Die township kan nou slegs deur drie alternatiewe ingange vanaf die R516-pad na Settlers binnegegaan word, het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, vroeër gesê.

Toegang na die nywerheidsgebied kan ook slegs vanaf die R516 bereik word, maar nie van die township se ingang nie.

Voetgangers kan steeds by die ingang in Milestraat in en uit beweeg.

Mosito het gesê die spitstye wanneer verkeer veral op die R516 druk is, vind tussen 07:00 en 08:00 en in die middae tussen 16:00 en 18:00 plaas. Opeenhopings vind veral by die brug naby die Bela-Bela Waterfront plaas — veral op Vrydae en Saterdae wanneer die dorp besoekers vanaf Gauteng ontvang.

Verkeersbeamptes is daagliks en oor naweke in die gebied en help om die verkeer te reguleer.

Samesprekings met Transnet is in die finale afrondingsfase om ’n alternatiewe ingang oor die treinspoor na die township vanaf die R101 te maak, het Mosito gesê.

“Die doel met die projek is om die brug wyer en die ryoppervlak gelyk te maak,” het Mosito gesê. “’n Stopteken sal binnekort by die alternatiewe roete naby die munisipale begraafplaas opgerig word en ons vra dat inwoners en besoekers geduldig sal wees tydens die boutydperk.”

Die projek beloop R5 miljoen en vorm deel van die munisipaliteit se kapitale projekte.

Volgens Mosito sal die brug teen Desember voltooi wees.

Related Articles

Back to top button