Local newsNews

Gewerskaf om dorp mooi te kry

Nuwe plante, potte en klipbeddings kikker die dorp se voorkoms op — net betyds vir die Nyliefees wat dié naweek plaasvind.

Oplettende inwoners van Modimolle het al gesien dat daar gewerskaf word by van die ingange na die dorp en dat openbare ruimtes plek-plek opgeruim en netjies gemaak word.

Nuwe plante, potte en klipbeddings kikker die dorp se voorkoms op — net betyds vir die Nyliefees wat dié naweek plaasvind.

Dit is die werk van Aksie Opknap, ’n projek wat deur ’n groep vrywilligers wat die dorp weer netjies wil maak, van stapel gestuur is.

Sakelui ondersteun dié groep met skenkings van benodigdhede om die projekte aan te pak.

Volgens Erna Human van Aksie Opknap mik hulle daarna om die projekte wat hulle aanpak volhoubaar te maak.

“Ons almal weet dat water skaars is. Ons plant daarom droogtebestande plante soos aalwyne en vetplante en gebruik groot potte en klippe in beddings om op water en onderhoud te bespaar,” het sy gesê.

’n Tuindiensteonderneming in die dorp het goedgunstiglik ingespring en die dorpsbegraafplaas, waar die gras hoog gestaan het, netjies gemaak. Ook die middelman op die R101-roete se gras is deur vrywilligers gesny en droogtebestande beddings is aangelê. Daar word ook oorkant Eenheid Primary School gewerskaf.

“Baie dankie aan almal wat ons help om die dorp weer mooi te maak. Ons nooi enigeen wat hul hulp wil aanbied om ons te kontak,” het sy gesê.

Vir meer inligting bel een van die komiteelede. Bel vir Human by tel. 082 348 6925, Alberta van Jaarsveld by tel. 076 812 0282, Berlané Kotze by tel. 081 095 1873, Henna Notnagel by tel. 083 417 8530 of vir Minnie van der Sandt by tel. 082 848 1209.

Related Articles

Back to top button