MunicipalNews

Rioolprobleme hopelik nou verby

“AfriForum sal die situasie dophou en toesien dat die munisipaliteit hul pligte nakom.”

Die rioolaanleg in Mookgophong wat vir baie inwoners ’n groot probleem was, word nou opgelos.

Die Pos het in Augustus berig oor die haglike toestand van die aanleg en dat die burgerregte-organisasie AfriForum stappe gedoen het om die toestand te verbeter.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het ’n vergadering belê en daar is besluit om ’n nuwe, groter pomp aan te koop sodat die riool van die pompstasie na die rioolaanleg gepomp kan word. Daar is ook besluit om ekstra suiweraars te kry wat die water beter sal suiwer voordat dit in die stelsel gaan.

AfriForum het reeds in Junie 2016 en Januarie 2017 klagtes oor rioolstorting by die munisipaliteit gelê en ’n klag by die polisie teen die voormalige munisipale bestuurder van die dorp oor die besoedeling gelê.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, is die herstelwerk ’n daadwerklike stap in die regte rigting. “Ons is dankbaar vir die vinnige terugvoe-ring wat ons van die munisipaliteit ontvang het en ons kan sien dat hulle die probleem probeer oplos. Ons hoop dat ons in die toekoms steeds sulke vinnige optrede van hulle kant af sal kry,” het Philip gesê.

Hoewel die rioolaanleg nou herstel word, het hy bygevoeg dat AfriForum sal volhou om druk te plaas op owerhede wat versuim om hul pligte na te kom.

AfriForum sal die situasie dophou en toesien dat die munisipaliteit hul pligte nakom. Ons kan nie toelaat dat mense se gesondheid benadeel word weens rioollekke in die strate van Mookgophong nie,” het hy voorts gesê.

Marlene het by navraag gesê sy is baie dankbaar vir AfriForum se hulp en dat druk van alle instansies partykeer nodig is om die administrasie tot aksie te dwing.

“Ons het selfs politieke druk toegepas en die saak met die raad en tydens die uitvoerende komitee se vergaderings bespreek,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het ook gesê dit is haar prioriteit om probleme op te los, beter dienste te lewer en mense se lewensomstandighede te verbeter. “Ek sal dus saam met enigeen werk wat my kan help om my doel te bereik,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button