Local newsNews

Vaalwater se burgemeester en inwoners maak dorp skoon

Verskeie instansies en skole van die dorp het handskoene en vullissakke nadergetrek en papiere in die strate opgetel.

Inwoners van Vaalwater en Lesideng het op Woensdag 5 September in groot getalle opgedaag om deel te neem aan Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, se inisiatief om die dorp skoon te maak.

Verskeie instansies en skole van die dorp het handskoene en vullissakke nadergetrek en papiere in die strate opgetel.

Die laerskoolleerders het ongeveer 3 km in twee uur afgelê om papiere op te tel. “’n Bottelstuk het my gesny,” het Danike le Roux van Laerskool Vaalwater gesê. Nog ’n leerder, Marisha Benade, het gesê hulle het “vreeslike erge goed” opgetel.

Van Staden, geklee in ’n blou oorpak en handskoene, het Laerskool Vaalwater se leerders in Tweede Laan se stofpad raakgeloop. Sy het die leerders toegespreek en gesê dat dit nie net oor dié dag gaan nie, maar juis oor mense se houding oor rommel. Elke klein gebaar maak ’n groot verskil, het sy gesê.

“Moenie toelaat dat selfs julle ouers of enigiemand anders eens ’n papiertjie by die vensters uitgooi nie,” het sy aanbeveel.

Marinus Cloete, onderwyser by Laerskool Vaalwater, het gesê om vooruit te beplan is die beste en mense moet ’n ekstra sak vir rommel saamneem wanneer hulle êrens heen gaan.

Die idee dat die opruim van vullis as werkskepping gesien word, moet end kry, het ds. Johan van Greunen van die Hervormde Kerk gesê.

Inwoners was oor die algemeen dankbaar dat iets daadwerkliks aan die dorp se beeld gedoen word.

Van Staden het al die rolspelers en betrokkenes op sosiale media bedank en ook gesê dat Vaalwater en Lesideng tans ’n nasionale en internasionale middelpunt is danksy die ontwikkeling van ’n biosfeeromgewing wat ’n groot aantrekkingskrag vir toerisme is.

Van Staden hoop dat haar munisipaliteit ’n leidende rol kan speel ten opsigte van beleggings in die land veral met die oog op ekonomiese groei en moontlike werkskepping.

Related Articles

Back to top button