CrimeNews

Bankkaart uit vrou se hande gesteel

“Toe ek my kaart uit die masjien haal, het ’n hand skielik verby my gesig gekom en my kaart gegryp.”

’n Bejaarde vrou van Bela-Bela is op Sondagmiddag 9 September by die Standard Bank-tak in Chris Hanistraat van haar bankkaart beroof toe sy geld wou onttrek.

Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het aan Die Pos vertel dat sy ongeveer 14:10 by die kitsbank aangekom het. Vol-gens haar was daar niemand by die bank nie.

“Toe ek my kaart uit die masjien haal, het ’n hand skielik verby my gesig gekom en my kaart gegryp. Die man, wat lank en skraal voorgekom het, het weggehardloop,” het die vrou gesê.

Die geskokte vrou het die polisie gekontak en ’n saak van diefstal is geopen.

Sy het kort ná die voorval ’n SMS ontvang dat iemand haar bankkaart by die Exel-vulstasie in die dorp gebruik het en meer as ’n R1 000 se lugtyd is met die kaart gekoop.

Die vrou vermoed die verdagte het haar PIN-nommer, wat sy by die kitsbank ingesleutel het, afgeloer het en toe sy die Sondag by die bank was. Sy het haar kaart intussen gestop.

Beeldmateriaal van die verdagte is intussen by die polisie en hulle ondersoek die saak verder.

Related Articles

Back to top button