LifestyleRecipes

Sponskoek met vele baadjies

“Dit is ’n koek wat nie kan flop nie. Jy kan die oond oop en weer toe maak; dit is ’n floplose koek.”

Marita Louw, ’n onderwyser by Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, is nie net ’n onderwyser nie, maar ook ’n bekwame, gekwalifiseerde sjef.

Louw is ’n plaasmeisie van die Palala-omgewing waar haar ouers se plaas geleë is. Sy was in die Waterbergskool vir CVO in die laerskool en het in 2008 as ’n Hansie gematrikuleer. Sy het in 2010 in George by die Eden School of Cullinary Art begin studeer onder die bekende sjef Francois Ferreira. Die Eden School of Cullinary Art staan vandag bekend as Die Francois Ferreira Sjef Akademie. Sy het daarna haar prakties by Witwater Safari Lodge naby Entabeni voltooi.

Dit is ’n tweejaarkursus en tipies van dié bekwame jong vrou, wat vir niks stuit nie, het sy aan die einde van haar kursus die trofee vir die beste “Cooking Chef” verwerf.

Om te bak en kook is vir haar ’n passie en sy het haar treffersponskoekresep met variasies met Die Pos gedeel.

“Ek het die resep by ons bakdosent, Carol-Anne Wicht, gekry: dit is ’n koek wat nie kan flop nie. Jy kan die oond oop en weer toe maak; dit is ’n floplose koek — my gunsteling,” het sy vertel.

Sy het haar eie variasies aan die koek gegee en volgens Louw kan die koek vir ten minste vyf dae buite die yskas gehou word en steeds heerlik smaak. Sy skryf dit daaraan toe dat die koek nie melk of botter bevat nie. Sy sit soms neute by of maak interessante vulsels soos ’n nougat- of bessiecompote. “Die opsies is eindeloos, het sy gesê.

Bestanddele (1):
• 1 ¾ koppie meel
• 1 ½ koppie suiker
• 15 ml bakpoeier
• knippie sout

Bestanddele (2):
• 5 eiergele
• ½ koppie olie
• ¾ koppie water
• 5 ml vanilla

Bestanddele (3):
• 5 eierwitte, styf geklop maar nie droog nie

Metode
1. Voeg bestanddele (2) by bestanddele (1) en meng tot glad.
2. Vou dan bestanddele (3) by.
3. Bak vir 20 minute teen 180°C in twee 18 cm-panne.

(Die resep maak 24 mediumgrootte kolwyntjies wat vir 15 min teen 180°C gebak word.)

Related Articles

Back to top button