BlogsOpinion

Hoofartikel: September is ’n ‘blou’ tyd

Volgens sielkundiges, is daar ’n merkbare toename in selfdoodgevalle in Suid-Afrika rondom September. Miskien kan dié somber gevoel wat mense ervaar, toegeskryf word aan die simboliese afskud van die winter.

Daar is iets in September wat ’n mens met heimwee vul — dalk iets meer somber as heimwee, selfs ’n erkenning van “iets donkerders” se gelaatstrekke.

So saam met die wisseling van die seisoen en die somerdae wat langer word, vind daar blykbaar ook ’n geestelike seisoenwisseling by baie plaas.

Want, volgens sielkundiges, is daar ’n merkbare toename in selfdoodgevalle in Suid-Afrika rondom September — dit is seker maar toevallig dat Wêreldselfdoodvoorkomingsdag juis op 10 September val.

Miskien kan dié somber gevoel wat mense ervaar, toegeskryf word aan die simboliese afskud van die winter. Miskien is dit dieselfde Augustus- en Septemberwinde wat deur mense se gemoed waai. Miskien is dit ’n benoudheid omdat die laaste skof van ’n jaar nog voorlê.

Ook in die geskiedenis het die Septemberwinde soms stormsterkte gewaai. Om maar net ’n paar van die bekendste voorbeelde te noem: Hitler val Pole op 1 September 1939 in en so begin die Tweede Wêreldoorlog. Op 5 September 1972 sterf elf lede van Israel se Olimpiese span in München ná ’n aanval deur die Black September-faksie van die Palestynse Bevrydingsleër. Op 11 September 2011 vind die grootste terroriste aanval in die geskiedenis van Amerika plaas toe twee vliegtuie in die World Trade Centre se torings en een in die Pentagon vasgevlieg het.

Ook aan die suidpunt van Afrika is September op die oomblik nie ’n mooi gesig nie. Die land is nou amptelik in ’n “tegniese” resessie. Die misdaadstatistieke wat op Dinsdag 11 September bekend gemaak is, skets ’n donker prentjie. Die petrolprys gaan wéér styg.

Maar lente hou ook die belofte van nuwe lewe in. Die feesseisoen is om die draai en die einste Tweede Wêreldoorlog het immers op 2 September 1945 tot ’n einde gekom. En as gelowiges leef ’n mens altyd in die hoop van nuwe lewe en ’n nuwe begin.

Maar soms, net soms, wil ’n mens saam met die groep Green Day sing: Wake me up when September ends.

Related Articles

Back to top button