CrimeNews

Ongelooflik! Dít is hoe vinnig motorryers op die N1-snelweg ry

’n Vrou van Polokwane is die Vrydag teen ’n allemintige 191 km/h van die pad getrek.

Motorryers wat tussen Vrydag 31 Augustus en Sondag 2 September vanaf Gauteng na Polokwane op die N1-snelweg gery het, het meer verkeer op die pad aangetref nadat duisende mense van die Zion Christian Church (ZCC) die pad na Zion City, Moria, buite Polokwane geneem het om die toewyding van dié kerk se nuwe jaar te vier.

Verkeersbeamptes en die polisie het die paaie voor die naweek reeds dopgehou en nie verkeersoortreders geduld nie.

Drie motorryers is op Donderdag 30 Augustus en Vrydag 31 Augustus by die afrit na Bela-Bela (die R516-pad) weens spoed afgetrek.

Volgens die Bela-Bela-polisie is ’n man in ’n Kia Cerato vroeg die Donderdagoggend afgetrek nadat hy teen 174 km/h gery het. Nog ’n man, wat ’n Renault bestuur het, het teen 175 km/h gery.

’n Vrou van Polokwane is die Vrydag teen ’n allemintige 191 km/h van die pad getrek.

Volgens kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die polisie in Bela-Bela, het al drie reeds vlugtig in die hof verskyn. Hul sake is uitgestel.

Isaac Monare, hoof van Bela-Bela se verkeersafdeling, het by navraag gesê mense wat vinniger as 161 km per uur ry, word summier in hegtenis geneem en word nie die opsie gegee om ’n boete te betaal nie.

Die laaste bus het Moria Sondag om middernag verlaat.

Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, het in ’n verklaring gesê dat daar vanjaar minder ongelukke in die provinsie was teenoor dieselfde tyd verlede jaar.

Altesame 28 ongelukke het oor die naweek in die provinsie plaasgevind teenoor die 57 in 2017.

Altesame 12 mense het op die paaie gesterf terwyl 36 mense verlede jaar gesterf het. Ses ongelukke is in die Waterberg-distrik aangemeld.

Moremi het gesê die oorsake van die ongelukke sluit meestal in voetgangers wat raakgery is, spoed, roekelose bestuur en moegheid.

Related Articles

Back to top button