MunicipalNews

Modimolle-inwoner hande in die hare oor stinkende rioolgemors

“Die probleem is baie erg en niemand luister en doen iets daaraan nie. Selfs die drein in ons stort stoot op.”

Die stank wat saans oor hul huis hang, maak dat hulle nie eens wil eet nie.

’n Dam riool skaars 30 m weg van hul huis, maak hul lewens ondraaglik, sê Wimpie Hattingh, ’n inwoner van Modimolle.

Hy vra reeds maande lank dat die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit die groot gat wat hulle in Paul Krugerstraat in Mei vanjaar gegrawe het om ’n rioolpyp te herstel, toegooi. Die gat word volgens hom egter al hoe groter en is gevul met stinkende riool. “Die probleem is baie erg en niemand luister en doen iets daaraan nie. Selfs die drein in ons stort stoot op,” het hy moedeloos gesê. Rioolprobleme is nie nuut vir die Hattinghs nie.

 

Wimpie Hattingh staan langs die groot gat wat die afgelope maande ’n riooldam geword het, enkele meters van sy huis af. Hy sê die stank is ondraaglik.

 

Die Pos het in Desember 2016 berig dat die riool vanuit ’n munisipale pyp tot teen hul voordeur opgestoot en hul hele voortuin toegespoel het. Hattingh het toe gesê dat hy in die nag by ’n nabygeleë vulstasie gaan sit het omdat die stank te erg was en hulle nie kon slaap nie.

Die Klein Nylrivier wat deur die dorp vloei is ’n skamele 20 m weg van dié swart rioolgemors en is in ’n haglike toestand met plastiekbottels orals en ’n versmorende groen laag plantegroei wat op die water dryf. Dié rivier sluit later saam met die Groot Nylrivier by die Nylrivier aan, wat die Nylsvley-bewaringsgebied tussen Modimolle en Mookgophong voed.

In Mei vanjaar is berig dat dié gat gegrawe is om die bestaande rioolpyp met ’n groter pyp te vervang om die konstante rioolprobleme in daardie omgewing te verlig. Drie maande later is die werk steeds onafgehandel en word die natuur erg besoedel.

Volgens Hattingh het hy die probleem herhaaldelik by die munisipaliteit en Marlene van Staden, die burgemeester, aangemeld, sonder dat die probleem opgelos is
Van Staden het by navraag gesê dat sy al self die dorp se vorige munisipale bestuurder na die gat toe aangery het. “Ek het klagtes ingedien en briewe geskryf. Ek wou die probleem maande gelede al opgelos gehad het. Met elke navraag is daar ’n ander storie hoekom dit nog nie opgelos is nie,” het sy gesê. Sy het gesê dat sy weer die afdeling wat daarmee werk, sal kontak.

  • Intussen het die VF Plus standpunt ingeneem oor die vervalle toestand van die riool- en suiweringsaanleg in Modimolle en Mookgophong nadat dit aan die lig gekom het dat sowat R80 miljoen wat gebruik moes word om die rioolaanleg op te gradeer, glo verdwyn het.

“Die probleem moet dringend aandag geniet en dit kan nie langer net voor die deur van die vorige ANC-bewind se onbevoegdheid en korrupsie geplaas word nie, al is dit feitlik korrek,” het Marcelle Maritz, die party se provinsiale leier in Limpopo, gesê.

“Ons sal dringend ’n gesprek met Marlene van Staden, burgemeester, aanvra sodat daar onverwyld begin kan word met optrede om die probleem op te los,” het Maritz in ’n mediaverklaring gesê.

“Die probleem het mettertyd ontstaan deur ’n jarelange gebrek aan onderhoud deur die vorige ANC-beheerde munisipaliteit met talle bewerings van korrupsie en onreëlmatige betalings aan diensverskaffers wat onderhoudswerk in die wiele gery het. 

“Die huidige krisis van rioolstorting in die Nylrivier is uiters sorgwekkend vir die gemeenskap en die boere wie se grond aan die rivier grens aangesien die besoedeling ’n duidelike gesondheidsgevaar inhou. Dit kan ook skadelik vir mense, diere en plante in die omgewing wees.”

Related Articles

Back to top button