CrimeNews

Peterson-verdagte vra borgtog

Maringa is reeds gevonnis vir roof en ander hangende sake van moord, roof, huisbraak en die besit van ’n gesteelde voertuig staan hangend teen hom.

Een van die verdagtes wat glo betrokke was by die moord op Cecil (83) en Pattie (73) Peterson van Bela-Bela se aansoek om borgtog het verlede week in die Bela-Bela-landdroshof voortgeduur.

Thato Surprise Maringa dien reeds 12 jaar tronkstraf in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria uit vir ’n vorige veroordeling van roof.

Die Peterson-egpaar is in September verlede jaar in hul plaashuis op TNT Trading, tussen Bela-Bela en Modimolle deur vyf mans aangeval. Pattie is in die maag en Cecil in die gesig geskiet. Sy is op die toneel oorlede en Cecil het ses weke ná die aanval in ’n Pretoriase hospitaal gesterf.

Die polisie het die verdagtes kort ná die aanval, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), in Hammanskraal aangekeer.

Drie van die vyf verdagtes, Piet Mathebula, Mpho Nico Nkonyana en Tshepo Tebula, se hofsake is intussen na die hooggeregs-hof in Lephalale oorgeplaas. Die verhoor is vir 4-15 Maart aanstaande jaar geskeduleer.

Die ander twee beskuldigde, Lucas Masingi en Maringa, se aansoeke om borgtog duur steeds in die Bela-Bela-landdroshof voort aangesien nuwe getuienis in die saak glo aan die lig gekom het.

Die groep word aangekla van moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van gesteelde eiendom en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Masingi was voorheen ’n konstruksiewerker wat op die Petersons se plaas gewerk het, het kapt. Renier Schutte, ondersoekbeampte, in die hof getuig.

Maringa het op Vrydag 31 Augustus onder streng bewaking en in boeie in die hof verskyn vir sy borgtogaansoek.

Maringa se regsverteenwoordiger het in die hof gesê dat Maringa getroud is, as ’n motorbestuurder gewerk het en in Hammanskraal woon. Hy het ook gesê Maringa het nie ’n paspoort nie en is ’n asmalyer. Maringa het skuld ontken op die aanklagte teen hom en aangevoer dat hy op die dag van die voorval gewerk het.

Hy beweer dat hy ten tyde van die moord op die Petersons geen selfoon besit het nie en dat hy nie die Hammanskraal-landdrosdistrik mag verlaat het nie omdat hy op borgtog uit was weens ’n vorige veroordeling.

Daar is in die hof gesê dat Maringa reeds gevonnis is vir roof en dat hy ander hangende sake van moord, roof, huisbraak en die besit van ’n gesteelde voertuig teen hom het. Die sake teen Maringa strek so ver terug as 2005, het Schutte getuig.

Volgens Schutte het die polisie met hul ondersoek bevind dat Maringa voor die aanval op die Petersons gereelde telefoon-gesprekke met Mathebula, Tebula en Masingi gehad het. Mathebula, Tebula en Masingi het egter nie met mekaar gesels nie, maar slegs met Maringa, het Schutte getuig. Op die dag van die roof was daar meer kommunikasie as gewoonlik tussen hulle.

Mathebula het die polisie ingelig van Maringa se beweerde betrokkenheid by die aanval en het selfs Maringa se selfoonnommer aan die polisie verskaf, het Schutte getuig. Die polisie se ondersoek het voorts bevind dat Maringa wel in die omgewing van TNT Trading was tydens die aanval.

Abraham Mohlabe, staatsaanklaer, asook Schutte, het in die hof aangevoer hulle glo die moord was ’n voorafbeplande misdaad. Hulle staan borgtog teen.

Landdros Maggie Montana het Maringa se saak na Dinsdag 11 September vir verdere verhoor uitgestel. Masingi sal ook weer op dieselfde dag verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Related Articles

Back to top button