Local newsNews

Sakeforum kies nuwe bestuur vir 2019

Die Naboom-sakeforum in Mookgophong het op Dinsdag 28 Augustus ’n vergadering gehou om netelige sake te bespreek en ’n nuwe bestuur vir 2019 te kies.

Die vergadering is gelei deur die huidige voorsitter, Mokone du Preez, wat ook herverkies is tot voorsitter.

Ds. André Botha van die NG Kerk het geopen en die forum bemoedig en gesê dat sakelui vasberade en dapper moet wees in die tye waarin ons leef.

Riaan Botha, ondervoorsitter, het die vergadering toegespreek oor die stand van die onderhandeling met Eskom rakende die dorp se skuld en die moontlike afsny van die krag teen einde September. Daar is tans ’n regspan wat besig is om dit te probeer verhoed en hulle sal binnekort ’n hof-aansoek teen Eskom indien, het hy gesê.

Die forum het besluit om te bly voortbestaan as die Naboom-sakeforum en om nie met Waterberg-sakekamer van Modimolle te verenig nie.

Raadslid Hercules Louw het op sy beurt gesê daar is reeds drie individue deur die forensiese span, wat beweerde wanpraktyke in die dorpbestuur ondersoek, geïdentifi-seer. Dié ondersoeke duur voort.

Louw het gesê die munisipaliteit ondersoek oplossings om die dorp se stortings-terrein te rehabiliteer. Hy het verder gesê daar is nuwe toerusting verkry wat ’n padskraper en ’n vooremmerlaaier insluit. Die herstel van die rioolwerke en hantering van die rioolstorting geniet voorkeur.

Jurina Buitendag het oor toerisme in die dorp gepraat. Sy het gesê Mookgophong is ’n integrale deel van die Waterberge en moet ontgin word. Die sakeforum moet aktief betrokke wees om toeriste na die dorp en omgewing te lok, het sy gesê.

Related Articles

Back to top button