CrimeNews

‘Moetie-truuk’ bring man niks in die sak

Hy het gesê dat hy gesien het hoe iemand “moetie” aan hom smeer en dat die man al die geld uit sy bankrekening moet onttrek vir ingeval iemand hom “getoor” het.

’n Man wat homself glo as ’n polisiebeampte voorgedoen en ’n man van Lephalale op ’n slinkse wyse oortuig het om al sy geld uit die bank te onttrek, het sy rieme styfgeloop.

AO James Findlay, polisiewoordvoerder van die Modimolle-polisie, het gesê sers. Amanda Rossouw het Solly Dimakatso Noko (34) van Mahwelereng op Vrydag 31 Augustus in hegtenis geneem op klagte van diefstal en dat hy hom as polisiebeampte voorgedoen het.

Volgens Findlay ondersoek die polisie ook ’n nieverwante klag van roof teen hom ná ’n voorval in Lephalale.

Noko het glo die klaer in Lephalale ontmoet en homself as ’n polisiebeampte voorgedoen. Hy het aan die klaer gesê dat hy gesien het hoe iemand “moetie” aan hom smeer en dat die man al die geld uit sy bankrekening moet onttrek vir ingeval iemand hom “getoor” het.

Die twee het na Modimolle gery en geld by Capitec Bank en Standard Bank onttrek.

“Die verdagte het toe glo ’n koevert aan die klaer gegee waarin hy gesê het die geld is. Die klaer is by die Modimolle-taxistaanplek afgelaai sodat hy kan terugkeer huis toe,” het Findlay gesê.

Later die aand het die klaer die koevert by die huis oopgemaak en tot sy skok ontdek dat daar net koerantpapier in is.

“Duidelike opnames deur kringtelevisiekameras het gehelp dat ons Noko kon vastrek,” het Findlay gesê.

Hy het dieselfde dag in die hof in Modimolle verskyn en sou later die week om borgtog aansoek doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button