Local newsNews

Sake-eienaars van Waterfront bly positief

“Die brand gaan ’n enorme impak op ons dorp se ekonomie hê. Die hele Waterfront sal gesloop moet word.”

Sake-eienaars van die Bela-Bela Waterfront staan uit die as op nadat dié bekende kompleks by die hoofingang na Bela-Bela die afgelope naweek afgebrand het.

Die ondernemings wat tot op die grond afgebrand het, is Century 21, Waterfront Waffle & Pancake House, Waterfront Nursery & Animal Farm, Rodeo’s, Den-tal Studio, Jordan’s Hair & Nails, Ticky Box Collectables & Antiques, Golf Car SA en De Dekke-restaurant. Daar was geringe skade aan die Waterfront Doggy Spa en die nuwe Thai Spa.

| Lees ook: Meer as 80 bekommerd oor werk ná Waterfront-brand

Bouwerk aan die Waterfront het in 1995 begin waarna dit een van die be-kendste bakens in die dorp geword het. Die meeste van die strukture was van hout met grasdakke op.

’n Baie emosionele Fred van Heerden, eienaar van die Waterfront en prinsipaal van Century 21, het by navraag gesê hy is nog te geskok om te sê wat die toekoms inhou en wat sy planne met die perseel is.

“Die brand gaan ’n enorme impak op ons dorp se ekonomie hê. Die hele Waterfront sal gesloop moet word,” het hy gesê. “Ek voel regtig jammer vir al die mense wat weer van voor af moet begin.”

Century 21 het intussen na die suidelike deel van die Waterfront, in ’n gebou wat nie deur die brand geraak is nie, geskuif. Personeel was dié week kliphard besig om inligting wat in die brand vernietig is, in te samel.

Volgens Van Heerden was die geboue in die Waterfront-kompleks verseker, maar nie Century 21 se inhoud nie.

Dr. Peter Swanepoel, tandarts van Dental Studio, het gesê hulle beplan om in die dorp te bly. Hy het op Maandag 27 Augustus reeds na ander moontlike persele gekyk. “Ek moet egter al my gereedskap en toerusting vervang en het nie versekering gehad nie.” Hy wil graag die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning tot dusver en het gesê hulle sal inwoners inlig sodra hulle weer oop is.

Eugene Sterckx, haarstilis en bestuurder van Jordan’s Hair & Nails, het gesê daar was vyf mense wat by die salon gewerk het. Die inhoud van die winkel was verseker. Volgens Sterckx het sy versekeringsmaatskappy gesê dit sal moontlik ses weke neem voordat die versekeringseis uitbetaal word. “Ons almal is uiters geskok oor die gebeure, maar ons sal opstaan en weer sake in Bela-Bela doen.” Sterckx is op die uitkyk vir ’n nuwe perseel in die dorp en vra dat die gemeenskap asseblief vir almal sal bid wat tydens die brand verliese gely het. Intussen gaan Jordan’s Hair & Nails tydelik sake doen vanuit ’n woonhuis in Bela-Bela. Vir meer inligting of om ’n afspraak te maak, bel vir Sterckx by tel. 076 791 9485.

Heinrich du Preez, wat die Golf Car SA-tak by die Waterfront gehad het, het gesê hy het ongeveer R2 miljoen tydens die brand verloor. Altesame 20 gholfkarretjies, nuut en tweedehands, is in die brand verwoes. Hulle het reeds op Maandag 27 Augustus verder gewerk aangesien hulle na kliënte toe gaan om herstelwerk te doen, maar Du Preez het gesê hy gaan beslis ’n nuwe perseel soek. “Dit is baie jammer, want ek het ’n prime spot gehad en weet nie of ek weer só ’n perseel in die dorp sal kry nie.”

Volgens Marinda Willemse, eienaar van Ticky Box Collectables & Antiques, het sy alles in die brand verloor en het sy nie versekering gehad nie. Sy het egter nog ’n onderneming in die dorp, Admar Afslaers, en sal vir tyd en wyl net daar sake doen. Haar werknemer wat by die Waterfront gewerk het, sal nou by Ad-mar werk. Sy wil graag die gemeenskap bedank vir hul bystand en ondersteuning.

Frans Van Zyl, eienaar van De Dekke, het gesê sy versekering dek die inhoud van sy restaurant. Die versekering dek slegs drie maande se salarisse vir sy 14 kelners en 12 permanente werknemers.

“Dit is die eerste keer in my lewe dat ek alles verloor het,” het Van Zyl gesê. “Ek het baie geld in daardie plek ingestoot, maar ons sal nie gaan lê nie.”

Hy het gesê terwyl die versekeringsproses aan die gang is, is daar nie planne om De Dekke elders in die dorp te heropen nie. Hy kyk wel na moontlike persele.

Riez Briel, mede-eienaar van Rodeo’s, het gesê: “Alles is in sy peetjie in. Daar is niks oor nie. Ons het nege werknemers. Hulle het almal gesinne wat hulle moet onderhou.”

“Ons is besig met beplanning, maar ons glo in ons hemelse Vader en ons geloof is sterk.”

Sy het gesê hulle is onseker hoe die brand ontstaan het.

Gelukkig is hulle inhoud verseker en sal hulle hul werknemers se salarisse vir die volgende drie maande kan betaal. Sy vra egter dat indien die gemeenskap ’n finansiële bydrae aan die werknemers kan maak, dit sal help.

NJ van Heerden, eienaar van die Waterfront Nursery & Animal Farm, asook die Waterfront Waffle & Pancake House, het gesê werkgeleenthede is nou ’n groot behoefte vir diegene wat deur die brand geraak is. Die Waffle House en Animal Farm het 13 werkers in diens gehad.

“Die toekoms van die Nursery & Animal Farm en die Waffle & Pancake House is nog onduidelik,” het hy gesê. “Ons beplan om vir eers net die plante en diere mooi en gesond te hou totdat ons weet wat gedoen kan word om weer geboue op te rig.”

Volgens NJ, ook die eienaar van die Waterfront Doggy Spa en die nuwe Thai Spa by die Waterfront, het dié twee ondernemings geringe skade opgedoen en sal voorlopig gesluit wees totdat herstelwerk voltooi is.

“Diegene wat die kwekery en die dierepark wil besoek en van die diere wil kom voer, is welkom om dit te doen. Ons behoort binnekort ’n tydelike ingang tot die perseel te hê,” het NJ gesê.

Marietjie de Budé van Waterfront Car Wash, het aan Die Pos gesê “danksy die genade van die Here” het dié onderneming nie afgebrand nie. “My kop staan stil; ek kan nie mooi dink nie, maar wat ek wel weet, is dat die Here goed is vir ons,” het sy gesê. Volgens De Budé het dié plek juis onlangs vir die eerste keer groei begin toon. Sy het teen druktyd nog nie geweet wat die pad vorentoe vir haar inhou nie omdat die hele kompleks se kragtoevoer steeds afgesny en die perseel nie veilig verklaar is nie; dus kon sy nie sake doen nie. Sy het gesê sy sal intussen nog beskikbaar wees by haar ander motorwassery by die Engen-vulstasie in die dorp.

Vergaderings met die Waterfront sake-eienaars oor die pad vorentoe sou die afgelope week plaasgevind het.

NJ wil elke persoon bedank wat die mense wat geraak is fisiek en emosioneel tydens en ná die brand bygestaan het.

Planne word ook beraam om die ingang na die dorp weer netjies te kry aange-sien die Waterfront die meeste verkeer tot die dorp verwelkom.

“Sou die Waterfront weer herbou word, sal grasdakke onder geen omstandighede — nooit ooit weer — oorweeg word nie,” het Fred gesê.

Related Articles

Back to top button