Local newsNews

Van alles en nog wat by Naboom Tuiste se basaar

Die basaar is al vir 14 jaar ’n jaarlikse instelling en die geld word aangewend vir die tehuis.

Die Naboom Tuiste vir Bejaardes in Mookgophong vier die lente met hul jaarlikse basaar op Saterdag 1 September.

Volgens Toeks Erasmus, een van die organiseerders, word ’n prettige winskopiegeleentheid vanaf 08:00 op die terrein van die Tuiste vir Bejaardes aangebied.

Die basaar word deur die bestuur van die tehuis en al die kerke in die dorp gereël. Die skenkings kom uit die gemeenskap.

“Die meeste kerke en organisasies, asook Mookgophong se gawe inwoners, doen mee om van hierdie poging ’n sukses te maak,” het Erasmus aan Die Pos gesê.

Daar sal ’n teetuin, koeke en beskuit, klein koekies, kerrie-en-rys, hamburgers, vleis, nageregte, naaldwerk, tweedehandse klere, ’n wit olifanttafel, tombola, boeke, plante en heerlike pannekoek wees.

Die basaar is al vir 14 jaar ’n jaarlikse instelling en die geld word aangewend vir die tehuis. Dit dra ook daartoe by om die fooie van die bejaardes so laag as moontlik te hou.

Die hele gemeenskap word betrek en mense kom van heinde en ver om die geleentheid te ondersteun.

’n Wavrag vol groente is deur inwoners se kinders van Brits in Noordwes aangery en daar is ook talle ander skenkings van inwoners. Inwoners word genooi om sommer in grootmaat vir die vrieskas te koop.

Die gewilde lyndansgroepe van die dorp sal om 10:00 en 12:15 optree. Daar sal ook ’n rolstoelwedren en kinderpret by dié gesellige geleentheid wees — alles vir liefdadigheid.

Die familie met die meeste afstammelinge wat die basaar bywoon, kry ’n heerlike, groot verrassingsprys.

“Kom oupas en oumas, bring die nasate. Julle samewerking sal waardeer word. Dit sal werklik die moeite werd wees. Kom kyk gerus en ondersteun ons lieflike tehuis,” het Erasmus versoek.

Related Articles

Back to top button