Local newsNews

Talle probleme laat bouwerk aan dié inkopiesentrum sloer

Die munisipaliteit is na verneem word steeds die eienaar van die perseel. Smith beweer dat die munisipaliteit nie met hom in gesprek wil tree oor die projek nie.

Die eerste sooi vir die bou van ’n inkopiesentrum in Mookgophong is reeds vier jaar gelede gespit is, maar daar staan nog net ’n gedeeltelike konstruksie van die gebou.

Volgens Mark Smith, eienaar van Oakwood Property Development, wat die ontwikkeling begin het, is daar ’n hofgeding tussen die eienaar van die perseel, die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit en Oakwood, wat die oordrag van die perseel verhinder. Volgens Smith sou die sentrum, wat as Windmill Centre bekend sou staan, aanvanklik teen Augustus 2015 sy deure geopen het.

Smith het gesê hy het reeds sowat R50 miljoen op die perseel bestee en dat daar al met die aanvang van die bouery kontrakte met huurders aangegaan is.

Die munisipaliteit is na verneem word steeds die eienaar van die perseel. Smith beweer dat die munisipaliteit nie met hom in gesprek wil tree oor die projek nie.

By navraag het burgemeester Marlene van Staden egter aan Die Pos gesê die munisipaliteit is nie bewus van enige hofsaak in dié verband teen hulle nie.

“Oakwood moet met die munisipaliteit se prokureur hieroor kommunikeer en nie direk met my nie. Ons sal egter graag die sogenaamde hofstukke wil sien,” het Van Staden gesê.

Smith het voorts aan Die Pos gesê dat die munisipaliteit reeds 18 maande gelede opdrag van die hof ontvang het om die oordrag van die perseel aan Oakwood Property Development te doen. Hy beweer dat hy ’n ooreenkoms met Mookgophong Square Ontwikkeling aangegaan het om voort te gaan met die bou van die sentrum, maar die transaksie het deur die mat geval.

Philip van Staden van AfriForum in Mookgophong het by navraag gesê dié burgerregte-organisasie het al in 2014 navrae aan die destydse munisipale bestuurder, Peter Magwala, gestuur en daarna aan die waarnemende munisipale bestuurder, OP Sebola, oor die afbreek van strukture en die bouwerk op die perseel.

“Die munisipale bestuurder het op 2 Desember 2015 besluit om die stuk grond aan Oakwood te verkoop en die raad het daartoe toegestem. Die munisipale bestuurder het in ’n skrywe bevestig dat die prosedure in terme van die wet nagekom is om die perseel te verkoop.”

Volgens Smith het Oakwood Property Development die perseel tydens ’n veiling teen R4 miljoen gekoop.

“AfriForum voel dat daar ongerymdhede rondom die verkoop en hantering van die perseel is en het die saak aan die Openbare Beskermer (OB) gestuur vir ondersoek. ’n Werknemer van die OB van Polokwane, wat anoniem wil bly, was by die munisipaliteit en ná sy besoek het hy ons meegedeel dat ons nie konkrete bewyse het dat daar enige onreëlmatighede is nie. Dit word ten sterkste deur ons (AfriForum) betwyfel,” het Van Staden gesê.

Die Pos het ook met Ansie Pistorius van Mookgophong Square Ontwikkeling gepraat oor die bouwerk aan die inkopiesentrum, maar sy het gesê sy kan nie kommentaar lewer voordat sy met hul regspan gepraat het nie.

“Intussen bly die inkopiesentrum net ’n ‘geraamte’ en ’n seeroog vir ons,” het ’n bekommerde inwoner aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button