MunicipalNews

Besoekers loop in familie se spore

Ongewone besoekers het op Woensdag 15 Augustus by die munisipale gebou in Modimolle aangeklop.

Die Noorweegse familie van Ludvig Field, ’n burgemeester van die ou Nylstroom in die vroeë 1900’s, het besoek afgelê by Marlene van Staden, huidige burgemeester. Die gesin het ’n brief van die burgemeester van Rakkestad in Noorweë, Field se tuisdorp, aan haar oorhandig.

Field het van 1894 tot 1937 in Nylstroom gewoon voordat hy terug Noorweë toe is.

’n Jong familielid van Field, Tord Tutteren (22) is ’n geskiedenisstudent in Noorweë. Hy het navorsing oor die lewe van Field gedoen en kontak gemaak met Richard Wadley van Vaalwater, wat binnekort ’n boek publiseer oor die Waterberge se geskiedenis.

Field, wat ’n groot bydrae tot die dorp se ontwikkeling gemaak het, was benewens die vier jaar wat hy as burgemeester gedien het, ook vir 20 jaar lank ’n dorpraadslid, het Wadley gesê.

Field het vermoedelik eers 10 jaar in Amerika deurgebring voordat hy in 1894 na Suid-Afrika gekom het. Hier het hy homself gou as prominente sakeman in die dorp gevestig. Field het £4 000 aan die dorp geskenk sodat ’n stadsaal en ’n kerk opgerig kon word, het Wadley vertel. Dié stadsaal het in 1961 ’n nuwe fasade gekry en die gebou staan tans as die O.R. Tambo-gebou bekend.

Hy is nooit getroud nie. “Field het homself van 1934 af voorberei om terug te keer na sy tuisdorp, Rakkestad. Hy het al sy eiendom en bates in Nylstroom aan ’n trust, die Arme Fonds, geskenk wat deur die drie susterskerke in die dorp bestuur is,” het Wadley gesê. Hy het die land in 1937 verlaat en is in 1944 in Rakkestad oorlede.

Field het ’n soortgelyke fonds as die een wat hy hier geskep het, vir hulpbehoewendes in Rakkestad geskep, en volgens Tutteren, baat studente vandag nog daarby.

Tutteren se ouers, Geir en Gro-elin en nog familielede het hom vergesel. Hulle het tydens hul besoek by Wadley in Vaalwater tuisgegaan en die Waterberge verder verken.

Van Staden het die oorhandiging van die brief van Rakkestad se burgemeester verwelkom. Sy het laggend gesê sy sou graag by hom wou hoor hoeveel uitdagings dié Noorweegse dorp en Modimolle in gemeen het.

Related Articles

Back to top button