Local newsNews

Waar is al die steenkooltrokke dan?

“Dit is steeds nodig dat steenkool van Medupi na Mpumalanga vervoer word. Dit sal begin sodra ons ’n paar praktiese probleme uit die weg geruim het.”

Die hoofpad deur Modimolle is steeds stil ná kennisgewings in Julie dat inwoners daagliks tot soveel as 200 vragmotors, wat steenkool vanaf die Medupi-kragstasie in Lephalale na Eskom se kragsentrale in Middelburg, te wagte kan wees.

Ernstige steenkooltekorte noop Eskom om oorskotsteenkool vanaf Medupi aan te ry, hoewel dit hoë koste vir die kragreus inhou.

Eskom het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, asook die departement van vervoer in Limpopo, in kennisgestel dat druk verkeer op die 400 km lange roete verwag kan word.

Die vragmotors sal na verwagting die R33-roete gebruik wat deur Marble Hall, naby Tuinplaas verby en deur Modimolle en Vaalwater loop. Inwoners is egter bekommerd oor die skade wat die swaar vragmotors aan die paaie kan aanrig, asook die gevaar wat konvooie vragmotors op smal plattelandse paaie kan inhou.

Eskom se mediakantoor het by navraag gesê die planne is nie van die baan af nie.

“Dit is steeds nodig dat steenkool van Medupi na Mpumalanga vervoer word. Dit sal begin sodra ons ’n paar praktiese probleme uit die weg geruim het,” het die e-pos gelui.

Matome Moremi, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het vroeër gesê die toename in verkeer beïnvloed hul wetstoepassing en hulle sal die verwikkelinge dophou.

Related Articles

Back to top button