Local newsNews

Hou honde in erf, vra inwoner ná byt

“Inwoners moet asseblief hul honde binne hul erwe hou. Iemand kan baie seer kry.”

’n Hond wat glo uit sy eienaar se erf gestorm het, het ’n bejaarde man van Modimolle ’n nare wond op sy been besorg.

Die 78-jarige inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos gesê hy het op sy fiets verby die hond gery toe hy gebyt is. Hy het gesê dit is die tweede keer in ’n maand dat honde in die omgewing hom byt. Hy is ’n ruk gelede laatmiddag deur ’n kleiner hondjie gebyt toe hy en sy vrou in Leydstraat gestap het.

’n Bejaarde inwoner van Modimolle het ’n lelike bytwond aan sy been opgedoen nadat hy deur ’n hond gebyt is. Die inwoner vra dat mense hul diere in hul erwe hou.

Dié keer is hy naby die polisiestasie in die dorp deur ’n boelterriër-kruising aan die been gebyt. “Hy kan dit nie meer waag om met sy fiets daar verby te ry nie,” het sy vrou gesê. Hulle het met die hond se eienaar gepraat en die erf is digter toegemaak, het sy gesê.

“Inwoners moet asseblief hul honde binne hul erwe hou. Iemand kan baie seer kry,” het sy gesê.

AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het by navraag gesê honde-eienaars moet toesien dat hul diere in hul erwe bly. “Indien ’n hond uitkom en iemand byt, kan dit die eienaar groot moeilikheid op die hals haal.”

Related Articles

Back to top button